Min ligpunte vir Eagles in neerlaag teen Pakistan
Enige visioen dat Namibië dalk die kwesbare Pakistan uit die ICC T20 Wêreldbeker sou uitskakel, het gister by die SSC-stadion in Colombo, Sri Lanka, net in kortstondige opflikkeringe tekens van lewe getoon.
Pakistan (199/3) het met die rug teen die muur gereageer en die FNB Eagles (97 almal uit) met 102 lopies verslaan om die Namibiërs se Wêreldbeker-veldtog met 'n wenlose rekord ná vier wedstryde af te sluit.
Die speler van die wedstryd was Pakistan se aanvangskolwer Sahibzada Farhan, met 100 nie uit nie van 58 balle. Farhan het net 20 balle nodig gehad om ná sy vyftigtal tot honderd te vorder.
Farhan het elf viere en vier sesse gemoker, terwyl Salman Agha (38 van 23 balle) en Shadab Khan (36 nie uit nie van 22 balle) ook tot die latere versnelling bygedra het. Pakistan het 78 lopies van die laaste ses boulbeurte geplunder.
Twee van Namibië se jonger garde, beide 20 jaar oud, wat hul eerste speelkans van die toernooi gekry het, het oomblikke beleef wat hulle van dié kragmeting sal onthou.
Die regterarm-naatbouler Jack Brassell het die paaltjies van Saim Ayub (gevang Zane Green vir 14 van 12 balle) en kaptein Salman Agha (gevang Gerhard Erasmus vir 38 van 23 balle) ingepalm, hoewel hy later meer straf verduur het om met 2/48 in 4 boulbeurte te eindig.
Alexander Volschenk het ‘n vier en ‘n ses geslaan voordat hy vir 20 van 20 balle gestonk is. Volschenk en die aanvangskolwer Louren Steenkamp (23 van 22 balle; 3x4 1x6) was die enigste dubbelsyfers op die telkaart, en slegs Jan Frylinck (9), Nicol Loftie-Eaton (5) en Gerhard Erasmus (7) kon elkeen een grenshou aanteken voordat die Pakistanse snel- en draaiboulers hulle terug pawiljoen toe gestuur het.
Die Namibiërs het ook hul vroeër groepwedstryde teen Nederland, die VSA en Indië verloor.
Super Agt bevestig
Pakistan sal in Colombo teen Nieu-Seeland speel in die openingswedstryd van die Super Agt-fase van die T20 Wêreldbeker, terwyl die heersende kampioen Indië teen Suid-Afrika te staan kom in 'n herontmoeting van die opwindende 2024-finaal.
Groep 1 van die Super Agt bestaan uit Indië, Zimbabwe, die Wes-Indiese Eilande en Suid-Afrika, terwyl Pakistan, Sri Lanka, Engeland en Nieu-Seeland sake in Groep 2 uitspook.
Elke span sal teen elk van sy drie groepteenstanders speel, met die twee topspanne van elke groep wat na die halfeindrondte vorder.
Alle spanne begin die Super Agt met nul punte. Geen punte, oorwinnings of netto lopietempo van die eerste rondte word oorgedra nie.


