Reënweer speel klaar met krieketplanne

Krieket
Andrew Poolman

Goeie reënbuie oor die naweek het sake deurmekaar gekrap vir die beplande wedstryde van Krieket Namibië.

Die Skotland-span het reeds in Windhoek aangekom met die oog op die driehoekige ICC Wêreldbeker Liga Twee-toernooi teen Namibië en Oman (2 tot 12 April).

Skotland en die FNB Eagles sou mekaar afgelope Saterdag in ‘n eendagwedstryd ter voorbereiding hierop ontmoet het, maar weens ‘n nat buiteveld op die HP Ovaal kon geen bal afgestuur word nie.

Die Skotte en die Namibiërs sal vanoggend (09:30) by dieselfde veld weer probeer.

 

Klubkrieket

Die bestemde finaal van die 30-boulbeurt eersteliga in die Sentraalstreek moes ook gister by die Universiteit van Namibië weens ‘n nat buiteveld afgelas word.

Gobabis (eerste) en Green Mambas (tweede) was lank voor nege-uur gereed om te begin speel, maar sokkerwedstryde op die twee velde weerskante van die kolfblad was nog aan die gang. Die nattigheid het uiteindelik ook die laaste sê gehad.

Gobabis en Green Mambas sal beide by Krieket Namibië se latere prysuitdeling as gesamentlike ligawenners vereer word, maar dis Gobabis (onoorwonne in vyf wedstryde) wat aanbeweeg om in die nasionale 30-boulbeurt eersteligafinaal teen Blue Waters (wenners in die kusstreek) te staan te kom.

Green Mambas het gehoop om dalk gister die bordjies te verhang vir hul enigste nederlaag, op 28 Februarie op die einste Gobabis. Willie Swart van Gobabis was daardie dag speler van die wedstryd met 5/24 in 6 boulbeurte, wat die Mambas tot 139 help beperk het in hul jaagtog om die tuisspan se 159/7 te oortref.

• Nog ‘n bestemde finaal wat gister geen uitslag kon lewer nie, was by WHS se FNB Vegkopstadion.

Net een kolfbeurt van die Noord/Sentraal 30-boulbeurt tweedeliga-eindstryd kon plaasvind, met Tsumeb Old Boys wat 159/5 in 22.5 boulbeurte gehaal het (Sean Silver 84 lopies van 67 balle; 10x4 2x6; Carlo Lacante 30 nie uit nie van 34 balle). Hul opponente Okahandja-krieketklub Noord (OCC North) het egter nie ‘n kolfkans gekry nie.