Reuse-geleentheid teen Indië wag in Delhi

Krieket
Teen ’n hoog gerekende span propvol wedstrydwenners wil die Eagles vandag die wêreld laat regop sit.
Andrew Poolman

As gasheerspan voor hul fanatiese tuisondersteuners sal die sterbelaaide Indiese krieketspan vandag die volslae gunsteling in hul tweede wedstryd van die ICC T20 Wêreldbeker in Delhi wees (begintyd 13:30 Namibiese tyd; uitsaaier SuperSport).

Die Indiese span het sy openingswedstryd teen die VSA gewen deur 161/9 p te stel en met 29 lopies te wen, terwyl die Namibiërs Dinsdagoggend net 156 lopies teen Nederland kon versamel en met sewe paaltjies geklop is.

Die FNB Eagles onder afrigter Craig Williams en kaptein Gerhard Erasmus het in onderhoude laat blyk dat hulle alles in hul vermoë wil doen om soveel druk as moontlik op die tuisspan vol te hou.

Selfs kommer in die Indiese kamp oor die fiksheid en gesondheid van drie invloedryke spelers is egter nie veronderstel om die tuisspan van stryk te bring in sy huidige opmars van nege opeenvolgende oorwinnings in T20 Wêreldbeker-wedstryde nie.

Die regterarm-snelbouler Jasprit Bumrah, linkerarm-draaibouler en aanvangskolwer Abhishek Sharma en regterarm-draaibouler Washington Sundar kan dalk al drie buite rekening wees om teen die FNB Eagles te speel.

Abhishek is gister uit die hospitaal ontslaan nadat ’n maagongesteldheid glo vererger het sedert hy desondanks teen die VSA gespeel het. Die verwagting is dat Indië nie met hom ‘n kans sal waag nie en eerder ‘n ander lid van die groep speelkans sal gee.

Bumrah het die VSA-wedstryd met siekte misgeloop, maar het glo genoegsaam herstel dat hy Dinsdag reeds voluit in die nette kon boul.

Indië (waarskynlik): 1 Abhishek Sharma of Sanju Samson, 2 Ishan Kishan (paaltjiewagter), 3 Tilak Varma, 4 Suryakumar Yadav (kaptein), 5 Hardik Pandya, 6 Rinku Singh, 7 Shivam Dube, 8 Axar Patel, 9 Arshdeep Singh, 10 Jasprit Bumrah of Mohammed Siraj, 11 Varun Chakravarthy.

Aan die Namibiese kant word bespiegel dat die 17-jarige snelbouler Max Heingo, wat teen Nederland 22 lopies in twee boulbeurte afgestaan het,dalk vir die meer ervare Ben Shikongo plek kan maak.

Namibië (moontlik): 1 Louren Steenkamp, 2 Jan Frylinck, 3 Jan Nicol Loftie-Eaton, 4 Gerhard Erasmus (kaptein), 5 JJ Smit, 6 Zane Green (paaltjiewagter), 7 Dylan Leicher, 8 Willem Myburgh, 9 Ruben Trumpelmann, 10 Bernard Scholtz, 10 Ben Shikongo.