Rooibal-wedstryd teen Warwickshire onbeslis
‘n Seldsame geleentheid vir meerdaagse krieket is laas Saterdag en Sondag vir plaaslike spelers gebied toe die Engelse toerspan Warwickshire sy besoek met ‘n tweedaagse wedstryd teen die Namibiese Akademiespan afgesluit het.
Dieselfde twee spelersgroepe het in die voorafgaande week ook drie eendagwedstryde oor 50 boulbeurte gespeel en het goed teen mekaar opgeweeg, voordat die Engelse span in ‘n spannende beslissende kragmeting die reeks met 2-1 beklink het.
Die tweedagwedstryd by die FNB Namibië Krieketstadion het onbeslis geëindig, met die opgesomde verloop soos volg:
Engelse kolf eerste
Die Namibiese Akademiespan se kaptein Zacheo van Vuuren het die loot gewen en gekies om eerste te boul.
Vir Warwickshire het die aanvangskolwer Arjun Singh Nahal, wat ook in die eendagreeks uitgeblink het, hom ingegrawe vir 82 lopies van 145 balle (ses viere, vier sesse).
Sy kaptein Levi Gekis het ook ‘n vyftigtal bygedra (62 van 67 balle; 6x4 2x6) tot hul totaal van 248 almal uit in 65.4 boulbeurte.
Die gedissiplineerde Namibiese bouleenheid het net vier ekstras afgestaan (geen wydlopers; twee foutballe).
Ben Brassell was uitstaande van die agt boulers wat ingespan is en het vier paaltjies vir 42 in 14 boulbeurte platgetrek. Sy broer Ben Brassell het 2/30 in 10 geneem en Douglas Truter (2/54 in 19) het die meeste boulbeurte afgestuur teen ‘n ekonomiese 2.84. Waldo Smith het 1/40 in 9.4 bb ingeoes.
Namibië op agtervoet
Ná net twee balle moes die tuisspan se kaptein Zacheo van Vuuren vir ‘n nulletjie terugstap, maar Michael Müller (27 van 36 balle; 4x4) het hom by Tiaan van der Merwe (17 van 21 balle; 1x4 1x6) aangesluit.
Toe Gerhard Janse van Rensburg (8) geboul is, was dit reeds die vierde paaltjie vir die aanvangsbouler Joe Walley, met die Akademiespan se telling op 69/4 ná 14.5 boulbeurte.
Simon Shikongo (24 van 32 balle; 2x4), Henré Opperman (15 van 36; 1x4) en die veelsydige Waldo Smith (4 van 3 balle; 1x4) het vergeefs probeer momentum opbou, waarna die Brassell-broers Ben (6) en Dan (3) asook Douglas Truter (3) ook goed koop uitgehaal is.
Die Namibiese totaal van 123 almal uit is ná 29.5 boulbeurte bevestig.
Joe Walley se gevaar as ‘n bouler het hom met ‘n indrukwekkende ses paaltjies vir 32 in 10 boulbeurte laat eindig, nadat hy ook vir Dan Brassell geboul en vir Truter agter die paaltjies laat uitvang het. Jack Pidgeon was ook ‘n doeltreffende bouler (3/23 in 8.5).
Tweede beurt van Warwickshire
Die Engelse is in hul tweede kolfbeurt vir 170 uitgeboul, maar hul voorsprong op die eerste beurt (125 lopies) het meegebring dat die Akademiespan 296 sou moes aanteken om te wen.
Nahbeel Mahmood (31 van 64 balle), Omaris Khan (30 van 47 balle) en Isaac Maddy (33 van 55 balle) was die topkolwers.
Ben Brassell (3/51 in 14 bb), Waldo Smith (2/18 in 8), Simon Shikongo (2/20 in 5.4), Dan Brassell (1/25 in 8) en Tangi Nuuyoma (1/23 in 7) het die paaltjies gedeel.
Onbesliste einde
Toe spel laat Sondagmiddag gestaak is, was die Namibiese tweede kolfbeurt op 60/1 ná 13.5 boulbeurte.
Tiaan van der Merwe (10 van 22 balle) het ‘n aflewering van Will James terug in die bouler se hande geslaan, maar Zacheo van Vuuren (41 nie uit nie van 44 balle; 6x4 1x6) en Michael Müller (9* van 18 ballle; 2x4) was onoorwonne.


