Basadi teken suksesse aan

Fokus op geweld teen vroue, kinders
Elizabeth Joseph
Die mees onlangse hoofstuk in die Basadi wetstoepassingsoperasie wat nege jaar gelede gevestig is, is deur die polisie as ’n sukses bestempel.
Die operasie is gelyktydig deur SAOG-lidlande uitgevoer om voortvlugtige verdagtes vas te trek wat vir geweld teen vroue en kinders gesoek is.
Vanjaar se operasie het tussen 18 en 20 Mei plaasgevind.
“Die misdade waarop gefokus is vir hierdie operasie was verkragting, moord, ontvoering en aanranding,” het generaal-majoor Anna-Marie Nainda tydens die inligtingsessie gesê.
Hulle het ook kleiner operasies uitgevoer soos skoolbesoeke, stop-en-soektogte, padblokkades en besoeke aan kroeë.
Tydens die operasie is altesaam 165 arrestasies gemaak, wat 119 Namibiërs behels het. “Altesame is 153 bewusmakingsveldtogte regoor die land gevoer rondom verskeie sake soos babastorting en geweld.
“Verskeie radio- en televisie-onderhoude is gevoer om die woord te versprei,” het Nainda gesê.
Die polisie het ook 12 maatskaplike verantwoordelikheidsaktiwiteite uitgevoer, insluitend skenkings van kos en bababenodigdhede.
Daar is beslag gelê op ’n groot aantal smokkelgoedere soos messe, vervalste kosmetiese produkte en televisies.
“NamPol bedank graag alle belanghebbendes, veral vroue in uniform wat entoesiasme geopenbaar het in Operasie Basadi, wat hoofsaaklik daarop gemik is om misdade wat vroue en kinders raak, aan te pak.
“Ons sien uit na die volgende Basadi-operasie,” het Nainda afgesluit.