NAC waarsku teen werksfoefie

Die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) het die publiek gewaarsku teen bedrieglike aanlyn werkaanbiedinge wat vir die Hosea Kutako Internasionale Lughawe geadverteer word.
Die NAC het gewaarsku dat “gewetenlose persone hulself voordoen as werknemers, verteenwoordigers en agente van die maatskappy, ten einde onregmatige wins te verdien of die publiek te kul deur bedrieglike werkaanbiedinge wat op sekere webwerwe geadverteer word of deur telefoonoproepe”.
Die NAC sê die kamma werksaanbiedinge soek na “nagskoonmakers by die lughawe”.
“Dit het onder ons aandag gekom dat hierdie mense die naam, handelsmerk en foto’s van lughawebedrywighede by Hosea Kutako gebruik met die doel om die NAC se reputasie te skend.”
Die NAC het die publiek dus gewaarsku dat geen persoon aangestel of gemagtig is om werk aanlyn of op webwerwe aan mense te bied nie, of om namens die maatskappy op te tree of sy naam, handelsmerke en logo of webwerf te gebruik nie.
Die maatskappy het dus individue en ander betrokke partye aangeraai om nie die prooi van sulke bedrieglike aktiwiteite te word nie.
“Die publiek word aangeraai om nie gelok te word deur enige van hierdie kommunikasie wat betaling vra nie. Lede van die publiek moet kennis neem dat die NAC nie verantwoordelik gehou sal word vir enige gevolge daarvan nie,” het die NAC gesê.
Die publiek word versoek om NAC se amptelike webwerf by https://www.airports.com.na/vacancies/ te besoek en hulle te kontak vir inligting oor vakatures.