Afrikaans word in Oshana gevier!
Die direktoraat van onderwys, vernuwing, jeug, sport en kultuur in Oshana en ook die streekraad het Saterdag sy eerste Afrikaans-fees op Ongwediva aangebied, met meer as 800 leerlinge van 13 skole wat dié taal onder die vaandel van “taal, kultuur en gemeenskap” gevier het.Die doel was om skole van oraloor die streek wat Afrikaans as vak aanbied, op een plek saam te bring om die sterk gevoel van gemeenskap van Afrikaans asook die rykdom, geskiedenis en kultuur te bevorder.
Die dag is afgeskop met ’n kleurvolle optog begelei deur trompoppies tot by Mayor's Park op die dorp waar 'n feestelike atmosfeer geheers het en leerlinge aan onder meer voordrag, sport soos sakresies en toutrek, sang en toneelspel deelgeneem het.
En natuurlik is daar gebraai, heerlik saam gekuier, bande gesmee en nuwe vriende gemaak!