Wees deel van taalhulpbron

Henriette Lamprecht
Dis tans die gewildste Wikipedia op die Afrika-vasteland, wat maandeliks tussen 10 en 12 miljoen keer besoek word.
Die Afrikaanse Wikipedia, die Afrikaanse weergawe van dié gratis aanlyn ensiklopedie wat wêreldwyd deur vrywilligers in hul moedertale geskep word, spog reeds met meer as 107 000 artikels wat dit in die 69ste plek op die wêreldranglys plaas. Tans is Wikipedia beskikbaar in 332 tale.
Later vandeesmaand kry Namibiërs die geleentheid om as vrywilligers opgelei te word om artikels op die platform te kan skep, met die besoek van die Afrikaanse Wikipedia-span uit Suid-Afrika.
Volgens prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is die Afrikaanse Wikipedia se groei “’n funksie van die wêreldwye tendens met die demokratisering en digitalisering van inligting en selfgerigte leer deur middel van digitale platforms en tegnologie”.
“Hierdie statistiek is merkwaardig juis omdat die Afrikaanse Wikipedia deur vrywilligers bedryf en bestuur word,” sê Beukes.
Dié Wikipedia is ook ’n belangrike hulpbron in die bevordering van Afrikaans as ’n wetenskapstaal, die rede waarom die akademie onderneem het om ’n tuiste vir die Afrikaanse Wikipedia te bied.
Die direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, Deon Steyn, lig Donderdag 27 April die sluier in Windhoek oor Wikipedia se doen en late. Steyn sal belangstellendes touwys maak oor hoe om ’n vrywilliger te word asook hoe om artikels te skep of by te dra tot bestaande artikels op die Afrikaanse Wikipedia. Kom gerus om meer uit vind en om te help om hierdie belangrike Afrikaanse kennishulpbron uit te brei.
Netwerk Namibië, ’n organisasie wat werk vir die groei en behoud van Afrikaans in Namibië, speel gasheer vir die besoek en opleidingsessie.
Om deel hiervan te wees, kan Elizma Theron by [email protected] of 081 756 1160 gekontak word.
Sanita Meyer, die akademie se woordvoerder en bemarkingsbeampte, kan by [email protected] gekontak word vir meer inligting.
Die sluitingsdatum vir deelname is 20 April.
[email protected]