Word deel van die Afrikaanse Wikipedia

Henriette Lamprecht
Namibiërs het vandeesmaand weer die geleentheid om meer uit te vind oor die Afrikaanse Wikipedia en hul vaardighede te slyp om artikels vir die platform te skep.
Die direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, Deon Steyn, bied op 18 April ’n opleidingsessie in Windhoek by Arebbusch Travel Lodge as gas van Netwerk Namibië aan.
Deon gaan belangstellendes touwys maak oor hoe om ’n vrywilliger te word en hoe om artikels te skep of by te dra tot bestaande artikels op die Afrikaanse Wikipedia en ook die sluier oor dié ryk bron aan kennis se doen en late lig.
Die Afrikaanse Wikipedia is die Afrikaanse weergawe van die gratis aanlyn ensiklopedie Wikipedia wat wêreldwyd deur vrywilligers in hul moedertale geskep word. Wikipedia verskyn tans in 326 tale.
Die Afrikaanse Wikipedia groei sterk en is tans die grootste Wikipedia op die Afrika-vasteland met meer as 115 000 artikels wat dit in die 69ste plek op die wêreldranglys plaas.
Boonop is daar maandeliks tussen 10 en 12 miljoen bladbesoeke op al die Wikipedia-platforms saam, met Afrikaans wat 700 000 tot 1 miljoen bladbesoeke per maand aanteken.
Die groei is ’n funksie van die wêreldwye tendens met die demokratisering en digitalisering van inligting en selfgerigte leer deur middel van digitale platforms en tegnologie.
Die statistiek is merkwaardig juis omdat die Afrikaanse Wikipedia deur vrywilligers bedryf en bestuur word. Dié Wikipedia is ook ’n belangrike hulpbron in die bevordering van Afrikaans as ’n wetenskapstaal.
Dit is waarom die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verlede jaar onderneem het om ’n fisiese tuiste vir die Afrikaanse Wikipedia te bied. Kontak vir Elizma Theron by Netwerk Namibië teen 15 April is jy as ’n vrywilliger wil bou aan die Afrikaanse skatkis van kennis deur ’n e-pos aan [email protected] te stuur. – [email protected]