Deur na Europa en die wêreld oop vir jong Surén
Die begaafde 18-jarige Namibiese fietsryer Roger Surén kry ‘n uitsonderlike geleentheid om sy talent ten volle te ontgin met die nuus dat hy deur die Europese professionele span Alpecin Premier Tech gekontrakteer is.
Soos sake staan, is Surén een van net drie bergfietsryers wat in die komende seisoen in die blou kleure van Alpecin Premier Tech gaan ry, met sy spanmaats twee van die mees bekroonde en hoog gerekende ryers in die sport.
Samuel Gaze (30) van Nieu-Seeland was onder meer die UCI wêreldkampioen in marathonbergfietsry in 2022 en het in dieselfde jaar ook die bergfietsry se goue medalje by die Statebondspele gewen, in ‘n resies waarin Namibië se Alex Miller die brons verower het.
Mathieu van der Poel (31) van Nederland is ‘n besonder veelsydige fietsryer en het in Februarie 2026 die eerste mansryer geword wat agt UCI wêreldkampioenskapstitles in cyclo-cross gewen het. Hy is vele waarnemers se keuse as die beste ryer in die geskiedenis van dié kode.
Die “Vlieënde Hollander” se unieke lys van prestasies sluit ook UCI wêreldkampioenskappe in grondpadfietsry (gravel biking) in 2024, asook die UCI wêreldtitel in padfietsry in 2023 in. As padfietsryer was hy ook reeds twee maal ‘n skofwenner in die Tour de France.
Alpecin Premier Tech het ook ‘n span van 30 professionele padfietsryers wat op die Wêreldtoer meeding – van wie Van der Poel ook een is.
Wonderkind
Surén se ooglopende potensiaal as bergfietsryer is raakgesien toe hy verlede jaar in Switserland die UCI junior wêreldkampioenskapsresies oorheers en net-net geklop is om ‘n geskiedkundige silwermedalje vir Namibië te beklink. Sy eerste kontak met die Alpecin-span het daar geskied.
In Februarie 2025 het hy boonop in sy eerste groot kompetisie nadat hy die junior klas (o.18) ontgroei het, Namibië se padfietsresieskampioen geword toe hy die vorige twee jare se wenner Alex Miller in ‘n naelrit eindstreep toe geklop het.
Surén het einde verlede jaar die skoolbanke van Windhoek Gimnasium verlaat. Sy kompeterende vaardighede is die afgelope jare onder meer in die FNB Skole bergfietsliga asook die SA Bekerreeks geslyp.
Afrigter opgewonde
Hans du Toit, nasionale afrigter van die Namibiese Fietsryfederasie, sê: “Roger is uiteraard ‘n belangrike deel van ons nasionale ontwikkelingsprogram.
“Die belangrike deel van hierdie kontrak is nie hoeveel geld hy betaal word nie, maar wel dat dit ‘n beursgeleentheid is om vir die volgende drie jaar tot sy volle potensiaal te ontwikkel.”
Surén volg in die spore van sy landgenote Alex Miller (tevore by Toyota Specialized en nou Swatt Club) en Vera Looser (Efficient Infiniti Insure) wat professionele vlak fietsry. Op die padfiets het Dan Craven in 2014 die groen kleure van die Europcar-span gedra en onder meer in die drieweeklange Vuelta e España (Toer van Spanje) meegeding.
Maar Du Toit sê histories was dit vir uitstaande Namibiërs soos Craven ‘n terugslag dat werklike groot geleenthede om te ontwikkel eers in ‘n later stadium van hul loopbaan opgeduik het.
Du Toit is dus opgewonde dat die komende blootstelling presies die regte medisyne vir Surén sal wees.
“Vir Namibiërs is dit baie duur om gereeld in Europa teen die bestes te gaan meeding, en moeilik as jy op jou eie moet bly, maar Roger het nou ‘n beurs vir die volgende drie jaar met die logistieke steun van ‘n professionele span agter hom. Ek is verheug dat Namibië darem minstens een keer dié kon regkry.”
Surén sal na verwagting steeds in Namibië en Suid-Afrika meeding voordat hy hom in Juniemaand by Alpecin Premier Tech gaan aansluit.


