Looser en Miller druk wenners hard in Kaapstad

Padfietsry
Verskeie Namibiërs het gister sterk vertonings gelewer.
Andrew Poolman

Met sy handjie vol sterk aanspraakmakers het Namibië by Sondag se Kaapstad-fietstoer gewys hoe kompeterend die land in die uiters gesogte padfietsrit met meer as 20 000 inskrywings is.

Vir die 32-jarige Vera Looser het die topposisie haar ongelukkig weer net-net in die 78 kilometer elite vroueresies ontwyk.

Looser het tydens die voorste groep se naelrit in ‘n ongunstige posisie tussen ander mededingers beland en kon dus nie die eindpoging lewer waarop sy gehoop het nie.

Oor die jare het Looser reeds elke eindposisie vanaf sesde tot tweede in Kaapstad behaal, maar het nog nie as wenner op die podium gestaan nie, maar sy het agterna laat blyk dat sy wel weer sal kom probeer.

Suid-Afrika se 27-jarige Lisa Bone van Johannesburg het in die naelrit gekies om links te hou en het die knoop deurgehaak as wenner teen Daria Prawilowa van Rusland en die VSA se marathon-bergfietsspesialis Kate Courtney (brons).

Agter Looser het Tiffany Keep, Candice Lill, Hayley Preen en Taneal Otto (agtste) almal ook in millisekondes agter die wenner klaargemaak.

Anri Greeff van Namibië was 19de (agtste in die 30-34 ouderdomsklas; 2:11:12).

Delsia Janse van Vuuren (2:11:14) was sesde van die o.23-vroue en algeheel 32ste, terwyl Rosemarie Thiel (2:17:30) sewende in die o.19 vroueklas was. Beide is belowende vooruitsigte om in Looser en Greef se spore te volg.

Belinda van Rhyn (2:16:48; 40ste posisie) het die derde podiumplek in haar ouderdomsklas 40-44 jaar behaal. Monique du Plessis (2:17:31) was algeheel 56ste en die 13de elite voltooier.

 

MANS 109 km

Alex Miller het deurgaans sterk in die voorste bondel van die 109 km mansresies gery vir ‘n uiteindelik vyfde posisie (derde in die elite mansklas).

Die 31-jarige Ryan Gibbons van Johannesburg was ná 2 ure 33 minute 06 sekondes die wenner in ‘n fotobeslissing voor sy landgenote Jaedon Terlouw (tweede), Ryno Schutte en Callum Ormiston.

Die gedugte Gibbons het onder meer die Afrika-kampioenskap twee keer en die Suid-Afrikaanse titel vier keer gewen. Hy het in Oktober as beroepsryer uitgetree nadat hy vir elf jaar oorsee gewoon het.

Miller was eerste van die buitelanders en effens voor Tyler Lange (RSA, die 2025-kampioen van die Kaapstad-fietstoer), Cole Punchard (Kanada) en Suid-Afrika se gebore Namibiër Marc Pritzen (agtste) geplaas.

Die heersende Namibiese padfietskampioen Roger Surén en sy vennoot in die o.23-klas, Justus Beulker, het beide teenspoed gehad toe hulle ná 75 km in ‘n groepbotsing betrokke was.

Die twee was saam in die tweede bondel wat aan die werk was om die voorlopers in te haal, maar weens skade aan hul fietse het Surén (64ste; 2:38:47) en Beulker (3 ure 52 minute) toe eers later die eindstreep gehaal.

Martin Freyer van Namibië was 48ste oor die eindstreep (vyfde in die 30-34 ouderdomskategorie; 2:35) sowat twee minute agter die wenner, en Jaques Hanekom een sekonde later algeheel 50ste.

Christiaan van der Westhuizen het met ‘n sesde plek vir mans o.19 belofte gewys. Sy 63ste posisie was een voor Surén (2:38:35). Sowat ‘n minuut later het Sean Lowe ook klaargemaak (algeheel 96ste; elfde o.19-mans). Petrus Hanga (2:39:40) was nommer 102 vir die volle afstand (27ste vir mans o.23).

Mike Baartman junior (2:47:27) was 144ste / 22ste van die o.19-mans. Drie sekondes was Theodor Janse van Vuuren ook klaar (162ste / 26ste van die o.19-mans). Van die o.19-mans was Henry Chamberlain 28ste en Dawie Greeff 52ste oor die eindstreep.