Meganiese teëspoed haal Miller uit

Bergfietsry
Sportredaksie

Die Namibiese bergfietsryer Alex Miller se eerste resies van die Europese grondpadfietsryseisoen het vir hom ietwat teleurstellend geëindig.

Miller, wat vir die Swatt Club-span gekontrakteer is, het Saterdag in The Hills Gravel se resies oor 124 kilometer (met meer as 1900 vertikale klimmeters) naby Treviso in Italië meegeding, wat deel van die Gravel Earth-fietsryreeks is.

Hy het agterna op sosiale media verduidelik: “Vir die eerste twee ure het ek redelik goed gevoel en ek kon in die voorste groep bly waar daar gewoonlik heelwat minder chaos is.

"Ongelukkig het my fietsketting tussen die speke beland. Ek het dit spoedig reggemaak en die groep weer van agter ingehaal, maar toe gebeur dit weer.

"Ek sou waarskynlik nie kon bybly om vir die topposisies mee te ding nie, maar ‘n realistiese kans om in die top-15 klaar te maak, het gevoglik verdwyn. Dit was nogal frustrerend om in die 27ste plek oor die eindstreep te ry, maar so is die lewe maar.”

Die mansresieswenner was Bradyn Lange (VSA) ná vier ure 19 minute 26 sekondes nadat hy oor die laaste 40 km solo weggebreek het, terwyl Miller nege minute later klaargemaak het.