Rock & Rut druk vorentoe met suksesresep
Die Rock & Rut bergfietsryklub se jaarlikse reeks veldwedrenne vir 2026 is laas Saterdag aan die gang gesit met byeenkoms Zero.
Die aanbieding op ‘n roete van IJG Trials in Kleine Kuppe wat minder gereeld as die hoofbaan gebruik word, het bygedra om die uitdagings vir die deelnemers interessant en vars te hou.
Op die kantlyn was Roger Surén bloot ‘n toeskouer, maar nogtans ‘n inspirasie vir oud en jonk en ‘n getuigskrif vir die potensiaal van Rock & Rut se reeks om die plaaslike talent soos hy vanaf hul tjokkerdae na vore te bring.
Die 18-jarige Surén, wat onlangs deur die Europese beroepspan Alpecin Premier Tech gekontrakteer is, sal na verwagting in Juniemaand by sy nuwe span aansluit waar Mathieu van der Poel (Nederland) en Sam Gaze (Nieu-Seeland) die senior vaandeldraers is.
Van die jonger tydgenote wat in Surén se spore volg, het Marco Thiel in die mansresies sy opgang gewys. Thiel (eerste met 'n voorsprong van meer as 2 minute), Sean Lowe (tweede) en Christiaan van der Westhuizen (derde) is almal in die junior mans (o.18) ouderdomsgroep en het die ses baanrondtes vinniger as die gesoute Xavier Papo, eerste van die elite mans, voltooi.
In die elite en o.23-vroueresies (ses rondtes) en die junior vroueklas (vyf rondtes) was Delsia Janse van Vuuren en Rosemarie Thiel beide die enigste inskrywings.
Van die wenners in die ander kategorieë:
Rhino mans (90 kg en meer): 1 Jan de Vries.
Seuns o.10: 1 Logan Hinze.
Seuns o.12: 1 Cody Heigan.
Seuns o.14: 1 JP Lambert.
Seuns o.16: 1 Micah Chase.
Subveteraan mans: 1 Petrus Human.
Veteraan mans: 1 Vernon Maresch.
Meestermans: 1 Marcel Surén.
Marathon mans: 1 Greg Chase.
Grootmeestermans: 1 Eckhard Waldschmidt.
E-bike mans: 1 Eckhard Waldschmidt.
Meisies o.10: 1 Amy Lowings.
Meisies o.12: 1 Linn Lambert.
Meisies o.14: 1 Qara Volschenk.
Veteraanvroue: 1 Irene Steyn.
Meestervroue: 1 Elanor Grassow.
Grootmeestervroue: 1 Berrit Graf.
Marathon vroue: Nadine Mahdy.
E-bike vroue: 1 Claudia Surén.
• Die reeks se volgende kompetisiedatums is 11 April, 13 Junie, 4 Julie en 8 Augustus. Die Otjihavera Experience (4-6 September) en die nasionale marathon-veldresieskampioenskap op 10 Oktober is ook twee van Rock & Rut se spogbyeenkomste later in die jaar.


