Windhoekers gebruik 27% te veel water

Ellanie Smit
Stad Windhoek (CoW) het weer eens kommer uitgespreek oor die weeklikse waterverbruik in en om die hoofstad wat die teiken met 27% oorskry het.
Die CoW het gesê die teiken vir die tydperk tussen 31 Oktober en 6 November is weer met 27% oorskry teen net meer as 536 000 kubieke meter water, teenoor die nodige byna 423 000 kubieke meter wat beoog is.
In die lig hiervan het die munisipaliteit gesê dit is van kardinale belang vir almal om onmiddellike stappe te doen om water te bespaar.
Windhoek ervaar ’n kategorie C-waterskaarste, en gevolglik is 10%-waterbesparing nodig om die vraag na water te handhaaf, het die CoW gesê.
Volgens die weeklikse dambulletin wat deur NamWater uitgereik word, het Windhoek se gemiddelde damvlakke tot net onder 27% gesak.
Die totale gemiddelde van Namibië se damme het tot 61,7% gedaal vergeleke met verlede seisoen – toe dit 74,9% vol was.
In die sentrale gebiede van Namibië staan die gemiddelde vlak van die damme nou op ’n lae 29,8% teenoor verlede seisoen se vlak van 47,5%.
Die Swakoppoortdam is op 52,6% van sy kapasiteit, die Von Bachdam is 17,3% vol en die Omatakodam is leeg.
Hierdie driedamstelsel voorsien Windhoek van water en die totale gemiddelde vlak van hierdie damme staan op 26,9% in vergelyking met verlede seisoen se gemiddeld van 44,9%.
Intussen is die Friedenhaudam 62,3% vol en die Goreangabdam staan op 94,1%.
In die Suide staan die gemiddelde vlak van die damme op 69,5%, vergeleke met verlede seisoen toe dit 83,5% vol was.
Die Neckartaldam, Namibië se grootste dam, is op 88,8% van sy kapasiteit. Verlede seisoen was dit 96% vol.
Die vlak van die Hardapdam naby Mariental het tot ’n skamele 24,7% gesak, die Nautedam is op 52,2% en die Oanobdam is 50,7% vol.
Die vlak van die Dreihukdam is op 0,3% en die Bondelsdam is leeg.
In die ooste van die land staan die damvlakke op ’n totale gemiddeld van slegs 5,1% – heelwat minder as verlede seisoen toe dit 16,7% vol was.
Die Otjivero-hoofdam is 6,8% vol, die Tilda Viljoendam 24,9% en die Daan Viljoendam 3,7%.
In ander dele van die land is die Olushandjadam in die Oshanastreek 33,5% vol, vergeleke met verlede seisoen se 9,5%.
Beide die Omaruru Deltadam in die Erongostreek en die Omatjennedam in die Otjozondjupastreek is leeg, dieselfde as verlede seisoen.
Die CoW het gesê sommige waterbesparingswenke wat inwoners kan implementeer, is om hul eiendom te fynkam vir enige lekkasies en dit te herstel om watervermorsing te voorkom.
Die munisipaliteit raai inwoners ook aan om te wag vir ’n vol vrag wasgoed of skottelgoed voordat dit gewas word en om die kraan toe te draai terwyl dit nie gebruik word nie.
Die CoW het verder gesê inwoners moet ou krane en stortkoppe met laevloei-weergawes vervang om waterverbruik te verminder en pleks daarvan om opritte en sypaadjies met ’n tuinslang skoon te spuit, moet hulle ’n besem gebruik om dit skoon te maak.
“Deur waterbesparingspraktyke te implementeer, kan ons ons verbruik verminder en help om hierdie waardevolle hulpbron te bewaar. Laat ons ’n doelbewuste poging aanwend om meer verantwoordelik te wees met ons waterverbruik.”
[email protected]