Beurtkrag dalk Namibië se voorland

Jemimah Ndebele
Namibië se ligte kan dalk ook binnekort begin flikker soos die invoer van elektrisiteit ‘n uitdaging raak, waarsku Standard Bank se kliëntebestuurder vir olie en gas, Iitembu Shituula.
Hy het dié opmerkings gemaak tydens ‘n konferensie deur die Namibië Instituut vir Korporatiewe Bestuur (NICG), wat in die hoofstad plaasgevind het. Hy het verduidelik dat Namibië tans 70% van sy elektrisiteit vanaf Suid-Afrika, Zimbabwe en Zambië ontvang. Shituula sê terwyl die Suid-Afrikaanse kragverskaffer Eskom tans beurtkrag toepas, knel droogtes die damme in Zambië en Zimbabwe waar hidrokrag opgewek word.
Die gevolge hiervan kan Namibië negatief raak. “Daar word reeds beurtkrag in hierdie lande toegepas. Wat gaan gebeur as hulle ons nie meer van elektrisiteit kan voorsien nie as gevolg van tekorte nie? Dit is waarop my stelling oor die moontlikheid van een tot twee ure se beurtkrag vir Namibië gegrond is. Dit sal dalk nie nou al gebeur nie, maar as ons nie iets daaraan doen nie, groei die risko daarvoor,” het hy gesê.
Stadige oplossings
Shituula se toespraak het gehandel oor hoe om die dreigende kragkrisis in die Suider-Afrikaanse streek te takel. Hy het beklemtoon dat Namibië selfvoorsienend behoort te word, siende dat die land genoeg natuurlike hulpbronne het daarvoor. “Die Kudugas-projek sal ‘n uitstekende oplossing wees, alhoewel dit eers in 2026 in produksie sal kom. Dit kan egter die oplossing wees – dalk nie vir die huidige situasie nie – maar wel om te help dat Namibië selfvoorsienend word. Bykomend tot NamPower se projekte vir hernubare energie, is daar geen rede hoekom ons oor tien jaar elektrisiteit moet invoer nie. Teen daardie tyd moet ons liewer uitvoerders wees,” het hy gesê.
NamPower se besturende direkteur, Kahenge Haulofu, het op navraag deur ons susterkoerant Namibian Sun oor moontlike bande tussen BW Energy en die Kudugasveld bevestig dat dié entiteite besig is om te onderhandel oor die kragkoopooreenkoms (PPA) asook die oordrag-verbindingsooreenkoms (TCA) - ingevolge die toepaslike Namibiese wetgewing. Hy het gesê dit sal eindelik aan die regering vir oorweging voorgelê word.