Foute kos biërs CoW sonkragtender

Mathias Haufiku
Net drie van die 30 maatskappye wat meegeding het om ’n bod te wen om die Windhoek munisipaliteit (CoW) se beplande 25-megawatt-fotovoltaïese (PV)-aanleg te bou, te besit en te bedryf, is aanvaar met die res wat uitmis weens ’n verskeidenheid foute in hul bod.
Van vermiste dokumente, ongesertifiseerde maatskappydokumente, bladsye wat nie geparafeer is nie, tot ontbrekende CV’s van sleutelpersoneel, onvolledige boddokumente en ’n gebrek aan verwysingsbriewe, het amptenare van die verkrygingseenheid oënskynlik ’n maklike taak gehad om die ingediende tenders te sif, wat gelei het tot die diskwalifisering van 27 bieërs.
Hierdie redes is vervat in ’n evalueringsverslag oor waarom die aansoeke gediskwalifiseer is. Alhoewel die laaste datum om tenders in te dien 19 Augustus 2021 was, is die proses meer as ’n jaar later nog steeds nie afgehandel nie.
Volgens die CoW se woordvoerder, Harold Akwenye, “is die proses steeds by die verkrygingseenheid”.
Toe die munisipaliteit sy planne aangekondig het om met die sonkragprojek te begin - wat bedoel is om krag vir huishoudelike verbruik op te werk - wou die CoW aanvanklik vyf sonkrag-PV-kragaanlegte oprig wat ’n gesamentlike kapasiteit van 25 megawatt (MW) sou lewer. Die beraamde koste vir die projek was N$420 miljoen, en dit sou gebou word op die suidelike grense van Cimbebasia, langs die B1-pad na Rehoboth.
Die verkrygingseenheid was egter gekant teen die voorgestelde struktuur van die projek, aangesien hulle wou hê dit moes bestaan uit net een mega-aanleg wat die vereiste 25MW sou opwek. Laasgenoemde opsie is uiteindelik gekies.
Akwenye het die nuwe verwikkelinge met betrekking tot die verandering van verskeie aanlegte na ’n enkele een bevestig toe hy gevra is oor die vordering van die beoordelingsproses.
25 jaar ooreenkoms
In ’n kennisgewingsbrief van 7 September wat aan die bieërs gestuur is wat uitgeskakel is, het die eenheid hulle meegedeel dat IJG-Akuo-Suneg Consortium, Alensy Energy Solutions en ’n gesamentlike onderneming tussen ChargeTech en Sepco Electric Power Construction Corporation aan die vereistes voldoen het.
Die finale suksesvolle bieër sal vir die volgende 25 jaar verantwoordelik wees vir die finansiering, konstruksie, ingebruikneming, bedryf en instandhouding van die aanleg.
Tans word die meeste van die elektrisiteit wat in Windhoek verbruik word van NamPower verkry.
Na verneem word, sal die ooreenkoms wat vir hierdie projek onderteken word in lyn wees met die bepalings van die gewysigde enkelkoperreël. Hierdie bepaling – wat in 2019 in werking getree het – laat groot elektrisiteitsverbruikers toe om 30% van hul behoefte direk van onafhanklike kragprodusente te verkry, of om dit self op te wek.
Namibië, wat beplan om teen 2030 altesame 70% hernubare energie-aandeel vir sy kragmengsel te bereik, was in gesprek met Botswana om ’n vyf-gigawatt-sonkragkompleks langs die gemeenskaplike grens te bou.
Die twee lande het ’n memorandum van voorneme aangegaan om saam aan die projek te werk.