20% van Namibiese woude in 30 jaar afgemaai

Dringende optrede nodig om ontbossing om te keer
Ellanie Smit
Namibië het die afgelope 30 jaar byna 20% van sy bosoppervlakte verloor weens die onvolhoubare gebruik van hulpbronne.
Die land bly egter daartoe verbind om hierdie kommerwekkende neiging om te keer deur ontbossing te verminder en boomplanting te bevorder, het minister van bosbou, Pohamba Shifeta, gesê.
Om hierdie rede oorweeg die ministerie dit om ’n bepaling by die wet te voeg wat almal wat plantegroei oes, verplig is om meer bome te plant en dit te versorg.
Shifeta het hirdie stelling gemaak tydens ’n nasionale bosboukonferensie wat gehou is onder die tema “Die toekoms van Namibië se woude: volhoubare bosbestuur as sleutel om sy potensiaal te ontsluit”.
Hy het gesê met net agt jaar oor om die 2030-teikens te bereik, neem Namibië aksie om die impak van klimaatsverandering te verminder.
Woude speel nie net ’n beduidende rol om klimaatsverandering te verminder nie, maar baie mense is afhanklik van woude en hul produkte vir hul lewensbestaan, het hy gesê. “Volhoubare bosbestuur is dus noodsaaklik vir die verligting van armoede.”
Die minister het bygevoeg dat woude oor die algemeen in die platteland geleë is en dikwels die hoofbron van werksgeleenthede, boumateriaal, energie, infrastruktuur, vaardigheidsontwikkeling en sakegeleenthede vir gemeenskappe is. “Ons moet dus dringend optree om die tempo waarteen ontbossing plaasvind om te keer en aggressief met herbebossing en bebossingsprogramme begin.”
Belangrike lesse
Shifeta het gesê die ministerie doen navorsing oor hoe om inheemse boomspesies te vermeerder, met die oog daarop om boomsaailinge beskikbaar te stel vir gemeenskapslede om hierdie spesies te plant.
Die ministerie het die gemeenskapsgebaseerde natuurlike hulpbronbestuursprogram in bosbestuur geïmplementeer, wat tot gevolg gehad het dat 43 gemeenskapswoude regoor die land gevestig is.
Hy het daarop gewys dat wanneer woude goed bestuur word, dit natuurvriendelike oplossings vir die meeste wêreldwye uitdagings bied – van verbeterde aanpassing en versagtingsmaatreëls tot klimaatsverandering, grondagteruitgang en verlies aan biodiversiteit tot die bou van veerkragtigheid teen toekomstige krisisse.
“Wanneer woude beskerm word, speel dit ’n deurslaggewende rol in die uitwissing van armoede, die verbouing van voedsel, die verbetering van energiesekerheid en die instandhouding van noodsaaklike waterskeidings. Wanneer woude gewaardeer word, ondersteun dit die lewensbestaan van die mees kwesbare segmente van ons samelewing. Wanneer woude gesond is, werk dit as ’n natuurlike buffer teen die oordrag van siektes.”
Shifeta het bygevoeg dat een van die belangrike lesse wat regoor die wêreld geleer is, is dat volhoubare bosbestuur slegs moontlik is wanneer plaaslike inwoners aktief betrokke is en tasbare voordele uit hul betrokkenheid ervaar. – [email protected]