Helfte van jagluiperds wat na Indië verplaas is, kan sterf

Agt diere reeds dood
Die eerste werpsels met realistiese vooruitsigte van oorlewing tot volwassenheid sal waarskynlik volgende jaar gebore word, lui die verslag.
Ellanie Smit
'n Verlies van 50% van die stigter-jagluiperdbevolking wat vanaf Namibië en Suid-Afrika na Indië verplaas is, moet in die eerste jaar na vrylating verwag word.
Luidens ’n statusverslag oor die jagluiperds in die Kuno Nasionale Park in Indië is dit die norm vir wilde jagluiperds wat heringevoer word in onomheinde stelsels.
Altesaam 20 jagluiperds van Suid-Afrika (12) en Namibië (agt) is in 2022 na die park verplaas, meer as 70 jaar nadat die diere in Indië as uitgesterf verklaar is.
Agt jagluiperds – een Namibiese volwassene en drie van die vier Namibiese welpies – is intussen dood.
Die ander sterftes was volwasse Suid-Afrikaanse jagluiperds.
"Alhoewel 'n kwart van die stigterbevolking verlore gegaan het (die drie welpies uitgesluit), moet verdere sterftes voor die jaareinde verwag word," lui die verslag.
Dit het bygevoeg dat verdere verliese in jaar twee na vrylating ook verwag moet word.
"Die eerste werpsels met realistiese vooruitsigte van oorlewing tot volwassenheid sal waarskynlik in 2024 gebore word."
Aanpassing
Volgens die verslag, gebaseer op vorige herinstellingservarings in Afrika, sal die Indiese stigterbevolking verder afneem tot ongeveer vyf tot sewe jagluiperds voordat bevolkingsherstel begin.
“Toekomstige geboortes by Kuno sal uiteindelik vir hierdie aansienlike verliese vergoed, maar welpieoorlewing in wilde jagluiperdbevolkings is laag.”
Dit het verduidelik dat heringevoerde jagluiperdwyfies steeds moet aanpas by die aard van die seisoene in Asië, en die beste geboorteintervalle moet vasgestel word deur dit op die proef te stel.
Om hierdie rede moet daar verwag word dat jagluiperdwelpie sterftes aanvanklik hoog sal wees.
Die onlangse sterftes in Kuno - met uiters nat toestande wat infeksie en septisemie veroorsaak - is 'n onvoorsiene ontwikkeling, en iets wat nie tydens Afrika-herinvoerpogings waargeneem is nie, aldus die verslag.