Indië verwelkom drie Namibiese jagluiperdwelpies

Ellanie Smit
Een van die jagluiperds wat as deel van bewaringspogings na Indië hervestig is, het vroeg in die nuwe jaar geboorte geskenk aan drie welpies.
Die trotse ma is die Namibiese jagluiperd Asha, wat in die Kuno Nasionale Park in Indië geboorte geskenk het.
Altesame 20 jagluiperds is reeds vanaf Namibië (8) en Suid-Afrika (12) na die Kuno Nasionale Park in die Madhya Pradesh-streek hervestig - meer as 70 jaar nadat die diere as uitgesterf in Indië verklaar is.
Ses het sedert Maart 2023 gevrek, insluitend drie van vier Namibiese welpies. ’n Jagluiperdwyfie van Namibië, Sasha, is op 27 Maart weens ’n nierkwaal dood, terwyl Uday, 'n Suid-Afrikaanse jagluiperd, in April dood is weens kardiopulmonêre versaking. Nog 'n Suid-Afrikaanse jagluiperdwyfie, Daksha, is op 9 Maart dood ná 'n gewelddadige interaksie met 'n mannetjie tydens 'n paringspoging.
Bhupender Yadav, minister van die Indiese ministerie vir die omgewing, bosbou en klimaatsverandering, het op 3 Januarie die nuus van die geboorte op sosialemedia gedeel: "Opgewonde om te deel dat Kuno Nasionale Park drie nuwe inwoners verwelkom het. Die welpies is gebore van die Namibiese jagluiperd Asha."
Hy het gesê dit is 'n groot sukses vir die inisiatief wat poog om ekologiese balans in die park te herstel.
"Baie geluk aan alle kundiges wat by die projek betrokke is, die Kuno-wildbeamptes en natuurlewe-entoesiaste regoor Indië."
Verlede jaar het die Namibiese jagluiperd Jwala aan vier welpies geboorte geskenk ná 'n paringsinteraksie met 'n jagluiperd genaamd Gaurav. Drie van die welpies het egter in Mei weens uiterste weerstoestande gevrek. Die oorlewende tien maande-oue welpie word deur Kuno-parkbeamptes versorg na sy ma hom verwerp het, nadat hy deur wildbeamptes vir behandeling weggeneem is.
Kommer is oor die projek uitgespreek. In 'n referaat wat in April 2023 in Conservation Science and Practice gepubliseer is, het navorsers opgemerk dat die jagluiperds weens die Kuno Nasionale Park se klein area ver buite die park se grense kan dwaal. Die park is oor 'n gebied van sowat 748 vierkante kilometer versprei en is van alle kante oop.
Die Namibies-gebaseerde Jagluiperdbewaringsfonds (CCF) het verlede jaar ná die dood van die ses jagluiperds gesê, hoewel dit te vroeg is om die hervestiging van jagluiperds aan Indië as 'n sukses te bestempel, jagluiperds die vermoë het om in Indië te oorleef, hoewel die projek kan verwag om meer terugslae en uitdagings die hoof te bied.