Naankuse insameling begin vir regsaksie teen ministrie

Ellanie Smit
Beplande regstappe deur die Naankuse-stigting teen die omgewingsministerie sal na raming US$200 000 kos (N$3,5 miljoen teen Vrydag se wisselkoers). Die stigting wil die regering hof toe sleep oor wette wat dierewelsyn in die land reguleer.
Dus is daar besluit om geld in te samel, met ’n insamelingsgeleentheid ten bate van dierewelsynswetgewing wat op 16 en 17 September in Brühl, Duitsland, plaasvind.
Die stigting se uitvoerende direkteur, Marlice van Vuuren, sal dan in Europa wees op ’n Namibië Toerismeraad-promosietoer, en terwyl sy daar is, sal sy die gasspreker by die geldinsamelingsgeleentheid wees.
Haar eggenoot, dr Rudie van Vuuren – wat die uitvoerende hoof van die Naankuse-groep van maatskappye is – het gesê hul optrede is daarop gemik om duidelikheid by die hof te soek oor sekere aspekte van die bestaande wetgewing.
Hy het gesê die Dierebeskermingswet 71 van 1962 (APA) is Namibië se primêre dierewelsynswetgewing en die doel daarvan is die voorkoming van wreedheid teenoor diere.
Mishandeling
“Dieremishandeling kan verskillende vorme aanneem. Dit sluit in dade van geweld teenoor diere en diereverwaarlosing, of die versuim om voorsiening te maak vir die welsyn van ’n dier onder ’n mens se toesig.”
Hy het bygevoeg dat dieremishandeling nie beperk is tot fisiese leed nie. “Om diere sielkundige skade te berokken in die vorm van marteling of terreur kan ook dieremishandeling uitmaak.”
Van Vuuren het gesê volgens die APA is elke persoon wat versuim om op te tree en daardeur lyding vir ’n dier veroorsaak, aan ’n misdryf skuldig is. “Anders bewoord, elke persoon is verplig om ’n dier in nood by te staan. Ongelukkig word die toepassing van die APA afgeskeep.”
Hy het gesê Natuurbewaringsordonnansie 4 van 1975 is ’n voorbeeld van voor-onafhanklikheid wetgewing wat in Namibië toegepas en afgedwing word.
“Ongelukkig behels die Ordonnansie en sy regulasies verskeie bepalings wat strydig is met die Namibiese Grondwet. Boonop skep die interpretasie wat die ministerie aan sekere bepalings in die Ordonnansie en regulasies verleen, konflik tussen die bepalings van die Ordonnansie en regulasies aan die een kant en die APA aan die ander kant.”
Hy het gesê die Ordonnansie maak nie voorsiening vir die beskerming van regte en vryhede wat ’n mens sou verwag om binne die wette van ’n grondwetlike demokrasie te vind nie.
Verouderde wetgewing
“Die Ordonnansie is ’n verouderde stuk wetgewing. Een pertinente voorbeeld van hoe die Ordonnansie in ons grondwetlike waardes misluk, is dat die Ordonnansie nie voorsiening maak vir billike en redelike administratiewe optrede nie. Die Ordonnansie bepaal dat jy nie redes hoef te gee vir ’n administratiewe besluit wanneer ’n aansoek afgekeur word nie. Dit is duidelik in stryd met die bepalings van artikel 18 van die grondwet en is, na my wete, voorheen ongrondwetlik verklaar. Voorts erken die Ordonnansie in sy huidige vorm nie die noodsaaklike rol van private bewaringsentiteite in die langtermynbewaringspogings in Namibië nie.”
Volgens Van Vuuren lei die huidige implementering van die Ordonnansie tot ’n situasie waar mense wat poog om hul statutêre plig ingevolge die APA na te kom, moontlik strafregtelike vervolging ingevolge die Ordonnansie in die gesig. “Hierdie onsekerheid is tot nadeel van diere en vir Namibië as geheel.”
Hy het bygevoeg dat hulle reeds met insamelingspogings begin het en dat enige ondersteuning waardeer sal word. “Ons wag op die finale dokumente van ons advokate en prokureurs en sal dit dan indien.”