Renoster ‘nie negatief geïmpakteer’ deur onthorning

Ellanie Smit
Daar bly bedenkinge oor die moontlike implikasies van die onthorning van renosters.
Hoewel die voordele van hierdie oefening lank reeds bewys is, meen sommige skeptici dat dit ’n effek op renostergedrag en biologie kan hê.
Nou het nuwe navorsing deur die Universiteit van Bristol se veeartsenykundige skool, die Namibiese omgewingsministerie en die Red die Renostertrust bevind daar is geen beduidende verskille in sleutelfaktore van bevolkingsgroei soos teling, geboorte, oorlewing, lewensduur en dood tussen onthoringde en gehoringde swartrenosters nie.
Die studie het gekyk na vier sub-bevolkings van swartrenosters in Namibië, waarvan drie ten minste een keer aan ’n mate van onthorning onderwerp is.
Navorsers het noukeurig gekyk na die ouderdom van renosterkoeie wat hul eerste kalf baar, die gemiddelde tyd tussen die geboorte van kalwers van elke koei, geboortegeslagverhoudings, kalfoorlewing, lewensduur en oorsaak van dood.
Daar is bevind daar is geen bewyse dat onthorning swartrenosters benadeel nie, wat bemoedigend is vir die voortgesette gebruik van onthorning as ’n tegniek teen stropery.
Die swartrenoster is ernstig bedreig en stropery is een van die grootste bedreigings wat die dier in die gesig staar.
Onlangse statistiek wat deur die ministerie verskaf is, toon dat minstens 32 swartrenosters teen die begin van September vanjaar gestroop is.
Onthorning het in 1989 in Namibië begin en is deur die ministerie uitgevoer. Namibië was ook die eerste land om dit as ’n teenstropingsmetode gebruik het.
“In ’n ideale wêreld sal niemand waarskynlik een van die mees ikoniese kenmerke van ’n renoster – sy horing – wil verwyder nie, maar ongelukkig is dit nie ’n ideale wêreld nie, en meedoënlose stropery het baie reservate gedwing om die diere te onthorn,” het Lucy Chimes, voormalige MSc-student van die Universiteit van Bristol veeartsenykundige skool, gesê.
Weens die klein steekproefgrootte van hierdie studie is verdere navorsing nodig om die geldigheid van die resultate daarvan te bevestig. Dit is veral belangrik vir toekomstige studies om data van soveel reservate, bewaringsgebiede en nasionale parke oor soveel lande as moontlik te versamel, sodat ’n groter ontleding – nie net oor die uitwerking van onthoring nie, maar ook die doeltreffendheid daarvan as ’n afskrikmiddel teen stropery – uitgevoer kan word.
Die datastel het inligting oor 265 renosters behels.
Die navorsing is goedgekeur deur die Universiteit van Bristol Dierewelsyn en Etiese Hersieningsliggaam en die Namibiese Nasionale Kommissie vir Navorsing, Wetenskap en Tegnologie.