Crossfit sorg vir aksie by Biltongfees

Kristien Kruger
Crossfit Windhoek se ope dag en optrede by volgende naweek se Biltongfees sal weer vir groot opwinding sorg.
Crossfit Windhoek, met hul slagspreuk ‘Sold Out on Life’, was reeds twee keer tevore betrokke by dié fees voordat die pandemie die pret kom bederf het.
Op 30 Julie by die United-sportveld is hulle egter terug en volgens die hoofafrigter en eienaar, Jean-Pierre Camm, is hulle gretig om die publiek by die dag se verrigtinge in te sluit.
“Enigiemand kan by ons aansluit as hulle wil, maak nie saak wat hul fiksheidsvlak is nie. Ons het ’n afrigter by elke stasie om deelnemers by te staan. Dis glad nie ’n kompetisie nie, behalwe miskien teen jouself. Ons het ook die ander Crossfit-klubs se lede uitgenooi om die dag saam ons te geniet.”
Hoewel die eerste oefensessies eers teen 09:00 begin, sal talle Crossfitters reeds vroegoggend hul drafskoene aantrek om vanjaar se Dignity Run te ondersteun.
Die eerste Crossfit-oefensessie sal by hul stalletjie op die feesterrein plaasvind. Omstreeks 10:00 sal die toeskouers en feesgangers ook kans kry om met die ‘Spectator Challenge’ in die aksie te deel.
Hierna volg ’n hoë-intensiteit interval oefensessie (HIIT) wat 11:00 sal afskop.
Tempo verlaag effe
Op die middaguur word die tempo effe verlaag met ’n jogasessie. Omstreeks 13:00 word dit ook die kinders se beurt om te oefen. Die laaste item op die program is ’n tegniese sessie met die fokus op gewigoptel wat 14:00 begin.
Camm sê: “Ons oefen almal saam, maar elkeen doen wat hy of sy kan om te kom waar hy of sy moet. Ons as afrigters druk jou limiete en motiveer jou om jou doelwitte te bereik. As jy nie probeer nie, sal jy nie weet nie, so kom en geniet die oefensessie saam ons.”
Crossfit Windhoek sal ook oefen- en andertoerusting by hul stalletjie verkoop. Feesgangers kan ook daar ’n draai maak indien hulle meer inligting wil hê oor lidmaatskap, pakkette en pryse.
“Die groei van Crossfit oor die laaste paar jaar is regtig fenomenaal. Dis seker een van die grootste gemeenskappe ter wêreld. Al oefen ons almal op verskillende plekke, staan ons saam as een – van geldinsameling vir liefdadigheid tot om die allerdaagse lewe positief te beïnvloed,” het Camm verduidelik.
“In watter ander sport kry jy dat die laaste deelnemers die hardste applous en aanmoediging kry?” – [email protected]