Geldknyp kniehalter Katutura ekspo

Elizabeth Josef
Die 2022 Katutura Expo, wat vanaf 31 Augustus tot 3 sou plaasvind, is gekanselleer weens ’n tekort aan geld.
Volgens die streekraadslid vir Katutura Sentraal-kiesafdeling, Vezemba Katjaimo, het die ekspo minstens N$500 000 nodig gehad en het hulle net daarin geslaag om 10% van daardie bedrag te bekom.
“Die ekspo is van so ’n aard dat ons minstens N$500 000 nodig gehad het. Ons het daarin geslaag om borgskap van N$50 000 te verseker. Maar wat kan ons daarmee doen?” het Katjaimo in ’n telefoniese onderhoud gesê.
Hoewel die komitee beplan het om ’n insameling te hou op 18 Augustus, sou dit nie ’n verskil gemaak het nie. “Ek dink nie dit sou gehelp het nie. Ons het nie eens genoeg kaartjies vir die gala verkoop nie,” het hy gesê.
Kaartjies wass teen N$10 000 vir groepe, N$900 vir paartjies en N$500 vir ’n enkelkaartjie verkoop.
Tydens die bekendstelling van die 2022-ekspo het Katjaimo gesê dat die geleentheid se hoofdoel is om ’n platform vir herlewing te bied, veral vir kleinbesighede wat veral swaargetrek het tydens die Covid-19-pandemie.
Hy het toe gesê die ekspo sou fokus op nywerhede wat werk kan skep, voedselsekerheid kan verbeter, innoverende produksiemiddele deur inligting- en kommunikasietegnologie kan produseer en die lewenstandaard vir Namibiërs kan verbeter.
Katjaimo het gesê hulle het besluit om te begin beplan vir die 2023 Katutura Expo en sal nie ledig sit nie.
Hy het maatskappye en borge gesoebat om hul ondersteuning van die ekspo voort te sit. Hy het verder die bywoning van alle Namibiërs aangemoedig weens die apolitieke aard van die ekspo.