Hester Steenkamp wen groot by ATKV Pluimpies
Met twee Veertjie-toekennings en die gesogte Oswald Rall Theart-prys het ’n tranerige Sandri Coetzer Vrydagaand die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se gewilde Pluimpie-toekennings verlaat om haar ma, Hester Steenkamp, in te lig dat sy met haar werke Kreef en Kaiings asook Stof en Sterre die groot wenner vir die aand was.Steenkamp, ’n boervrou van die Mariental-omgewing, kon nie die geleentheid self bywoon nie en dus het Coetzer die pryse namens haar ontvang.
Die skrywer Marlene Erasmus is ook twee Donsie-toekennings ryker vir haar werke Waar woorde val en Die laaste maaltyd.
Die stigter van Alzheimers Dementia Namibia (ADN), Berrie Holtzhausen, is ook met ’n Donsie-toekenning vereer vir sy geskrewe werk My reis saam met dementia en het ’n Afrikoon-toekenning ontvang vir sy bydrae tot sy gemeenskap.
’n Oorkonde is aan die Suid-Afrikaanse akteur en televisieaanbieder, Hannes van Wyk toegeken. “Die feit dat ek dit hier in Windhoek ontvang, maak dit vir my nog meer spesiaal. Ons het so baie lojale kykers hier in Namibië. Ons as akteurs en aanbieders kan doen net wat ons wil, maar as daar nie mense is om te kyk nie, is daar niks,” het hy gesê toe hy sy prys ontvang het.
Die Afrikoon en Oorkonde kan slegs deur die ATKV se hoofkantoor in Suid-Afrika toegeken word. Die ATKV se Windhoek-tak nomineer aan hul hoofkantoor persone aan wie hulle hierdie toekennings wil gee en die raad by hoofkantoor besluit dan watter toekenning die persoon moet kry. “Die Afrikoon word hoofsaaklik toegeken aan iemand wat ’n impak op gemeenskapsvlak maak, terwyl die Oorkonde meer gaan oor impak op nasionale vlak,” verduidelik die ATKV se koördineerder vir Noordwes, Kalahari en Namibië, Marco van den Berg. – [email protected]