Lekker, lekker potjiekos!

Makietie by Reitklub
Die spreekwoordelike tafel is gedek vir 'n heerlike kuiergeleentheid op die tuindorp.
Die vure gaan hoog brand by Stables 26 by die Reitklub op Okahandja wanneer hulle groot potjiekoskompetisie op 15 Oktober daar gehou word.
Behalwe vir die spanne wat teen mekaar gaan meeding, is daar ook top vermaak op die program, met Jessica Strydom, die Getz Band en Len & Joharetha Nel wat musiek maak.
Die kompetisie word nou uiteindelik ’n werklikheid ná dit meer as twee jaar gelede halt geroep is na die pandemie die land getref het. “So, ons werk nou aan ons grooste sosiale geleentheid sedert Covid,” sê Sanett du Prat.
Sy vertel dat die pryse groot gaan wees en teen druktyd was hulle druk besig om die laaste reëlings te tref.
“Daar sal pryse vir die eerste, tweede en derde spanne wees, asook vir die beste stalleltjie en die mooiste spangees,” sê sy.
Daar is plek vir altesame 20 spanne (van vier persone elk) wat aan die potjiekoskompetisie kan deelneem. Elke span kan hul eie tema kies, so gaan groot!
Entrepreneurs kan ook met hulle produkte kom spog, en daar sal ook vir hulle ’n prys op die spel wees, sê Sanett.
Daar het baie gebeur sedert Windhoek Express se laaste besoek aan Stables 26 twee jaar gelede.
“Wat die spyskaart betref, is daar sedert 1 September verskeie nuutjies. Ons het byvoorbeeld ’n ‘bou jou eie pizza’-opsie bygevoeg waar mense regtig baie ekstras kan bestel,” vertel sy.
Die koffiekroeg is steeds van Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 12:00 oop vir 100% vars koffie en heerlike vars gemaakte pastye en bröchen, en tussen 09:00 en 11:00 is daar ontbyt op die spyskaart. Daar is ook elke dag tussen 13:00 en 14:00 “pub lunch specials” wat enige hongerkol sal stil, soesji aande wat baie gewild is, en verskeie ander spesiale geleenthede en aanbiedings.
En vir ’n spesiale geleentheid by jou huis, maak Stables 26 ook heerlike, vars bordjies eetgoed.
Maar vir eers is die fokus op die potjiekoskompetisie.
Toegang is N$30 per persoon en ’n buffet sal beskikbaar wees teen N$170. Daar word ook vir die kleintjies gesorg, met ’n speelarea wat die hele dag oop is vir die winskopieprys van N$50.
Vir meer inligting, kontak Stables 26 by 062 501 146 of [email protected], of besoek hulle Facebook-blad.