Nasionale jeugweek geloods
Jamie-Lee LossDie Nasionale Jeugraad (NYC) bied elke jaar ’n jeugweek in ’n ander dorp aan. Vanjaar se jeugweek, wat gehou word onder die tema “Promoting Youth Agripreneurship: An Avenue for Self-Employment and Work-Readiness”, is daarop gemik om jongmense aan te moedig om deel te neem aan Namibiese voedselstelsels deur middel van klein- tot mediumgrootte ondernemings in die landbou. sektor.
“Ons poog om die voordele van landbouprodukte te demonstreer en met die relevante belanghebbendes saam te werk om bewustheid te skep oor verskillende benaderings en geleenthede in die landbousektor,” het Calista Schwartz-Gowases, NYC-direkteur, gesê.
Vanjaar se jeugweek vind vanaf 26 tot 29 April in Lüderitz plaas wat na vervagting deur 10 jeugverteenwoordigers van elke kiesafdeling in Namibië bygewoon word, asook 28 jeugdiges uit gemarginaliseerde gemeenskappe, 14 jeugdiges met gestremdhede, die NYC se raad van direkteure en verteenwoordigers van die borge.
Die borge sluit in die Namibia Fish Consumption Promotion Trust, Agribank, Seaflower, Namport, die Ontwikkelingsbank van Namibië, die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds en die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram.
Daarbenewens sal die geleentheid bygewoon word deur belanghebbendes in die landbou, visserye en verwante sektore, insluitend finansiële instellings en internasionale ontwikkelingsagentskappe.
Deur die week sal aktiwiteite soos opvoedkundige aanbiedings, waardekettinguitstallings, uitstappies en ’n skoonmaakveldtog plaasvind, terwyl deelnemers ook aangemoedig sal word om teen Covid-19 ingeënt te word.
Hierdie inisiatief is ’n goeie manier om deure oop te maak vir die jeug – veral diegene met gestremdhede en gemarginaliseerde groepe – om almal ’n regverdige kans te gee om te leer en te groei, het die NYC gesê.