PRET, PLESIER EN SMULLEKKER BILTONG

Die immergewilde Biltongfees vind vanjaar op 30 Julie by Trustco United se sportgronde in die hoofstad plaas.
As jou gewete jou pla oor al die vetterige biltong wat jy beplan om die dag te eet, kan jy vir die 5 km-Dignity-pretdraf – wat die oggend vroeg plaasvind – inskryf of vir die Crossfit-kompetisie.
Afgesien van stalletjies met hope smullekker biltong en ander vleissnitte, sal feesgangers ook vermaak word deur die Mej. Biltongfees-kompetisie en ’n boerboelskou.
Plaaslike en internasionale kunstenaars tree by die fees op. Die gewilde Suid-Afrikaanse kunstenaars Leah en Franja du Plessis, asook die trio Jan Jan Jan, sal saam met die plaaslike kunstenaar Jaco (Grappi) Claassens op die verhoog te sien wees.
Verskeie aktiwiteite soos ’n teetuin, Hollard se pretpark asook ’n wyn- en biertent sal feesgangers besig hou.
Die fees is ’n projek wat deur die Nederduitsch Hervormde Kerk in Windhoek aangebied word.
Kaartjies is nou beskikbaar, so maak seker jy kry joune by www.eticket.my.na.
Hou ons sosialemediaplatforms dop vir meer inligting.