Skoffel lekker saam met Klipwerf

Tanja Bause
Suid-Afrika se Klipwerf Boereorkes tree vandeesmaand in Namibië op om geld vir Droogtehulp Namibië in te samel, omdat hulle boere in nood help en nie net in droogtetye nie.
Jan Mostert van die plaas Grunenberg tussen Gobabis en Leonardville se ma het siek geword en hy wou ’n trust stig om geld vir haar behandeling in te samel. “Die idee was om die trust aan die gang te hou ná my ma geholpe was sodat die trust in die toekoms ook ander boere in dieselfde situasie kan help. Ek het Henriette [le Grange van Droogtehulp Namibië] genader en om raad gevra oor hoe om die trust te stig. Sy het teruggekom en gesê Droogtehulp sal dit hanteer. Hulle het die advertensie opgemaak en N$31 000 vir my ma ingesamel. Droogtehulp het ook uit hul rekening N$30 000 vir ons gegee.”
Dis die tweede keer dat Droogtehulp Namibië vir Mostert help. Tydens die droogte vanaf 2016 tot 2019 het hy voer ontvang. “Droogtehulp help nie net met voer tydens droogte nie, hulle help die boer met ander finansiële nood ook,“ het Mostert gesê.
Hendrik de Villiers van die plaas Groot Hansa 60 km buite Koës het onlangs weer 160 bale lusern van Droogtehulp Namibië ontvang. “Meer as die helfte van my plaas het nie baie reën gekry nie en ek is reeds weer daar waar ek in die droogtetyd was. Die hulp wat ons kry, is ’n groot seën. Hier is so vyf buurplase wat in dieselfde situasie is en wat ook binnekort hulp sal benodig,” het hy gesê.
“Dis ’n ongelooflike voorreg dat mense nog steeds vir mekaar omgee en hulp verleen. Net omdat dit gereën het en op plekke goed gereën het, beteken dit nie dat almal reën ontvang het nie. Talle boere benodig steeds droogtehulp,” het sy vrou, Hester, gesê.
DROOGTEHULP
Henriette le Grange het Droogtehulp Namibië in 2015 begin om boere tydens erge droogte by te staan.
“Droogtehulp Namibië bestaan uit ’n groepie mense met passie – ’n passie vir mense, vir boere, vir Namibië en vir ons Hemelse Vader,” het sy gesê.
Die organisasie het onlangs in die Suide ook met die sprinkaanplaag gehelp. Dié instansie bied ook hulp met onder meer skoolfondse en ander benodighede, hulp met veldbrande, mediese hulp, hulp met basiese behoeftes en die Boksie vir ’n Boervrou-projek.
“Van ons onlangse uitgawes was N$420 000 vir die sprinkaanplaag, N$55 000 vir mediese hulp vir twee boere en N$30 000 vir droogteverligting.”
Om bykomende fondse in te samel bied Droogtehulp Namibië en die Klipwerf Boereorkes vier lekkerkuieraande in Augustus in Namibië aan.
“Die Klipwerf Orkes is sinoniem met kuier, samesyn en skoffel tot laat (of vroeg). Namibië het ’n spesiale plek in die orkeslede se harte en dit is vir hulle ’n voorreg om deur ons land te toer en die mense se voete te laat jeuk. Aangesien die meeste lede self boer, is dit nóg meer spesiaal om, veral in Windhoek, ten bate van Droogtehulp Namibië te speel. Om ’n verskil in iemand se lewe te maak, is vir hulle baie belangrik en ’n bonus, so saam met die kuier in Namibië.”
“Met die geldinsameling wil ons graag fondse opbou, sodat ons dadelik kan help wanneer daar weer nood is. Geen lid van die Droogtehulp-span ontvang enige vergoeding vir werk of uitgawes wat ons aangaan nie,” het Le Grange gesê.
Skakel die organiseerders om kaartjies vir die orkes se optredes te kry en saam te kuier.
• 4 Augustus – Stampriet (Elsabe op 081 433 7338)
• 5 Augustus – Windhoek (Marcha op 081 288 2886)
• 6 Augustus – Walvisbaai (Hester op 081 275 7793)
• 12 Augustus – Otjiwarongo (Mariaan op 081 256 4980).