Toerisme Ekspo bied iets vir elkeen

Frank Steffen
Die amptelike opening van die jaarlikse Toerisme Ekspo is gistermiddag by die Windhoek Buitekluboord gehou. Die hekke is vandag en môre vanaf 16:00 tot 21:00 oop vir die publiek.
NMH se uitvoerende hoof, Albe Botha, het sy vreugde uitgespreek oor die feit dat die ekspo in 2023 vir die 24ste keer aangebied word, met die geleentheid wat vanjaar op die tema "Beyond Borders" fokus. Vanjaar vorm die gewilde Windhoek City Market ook deel van die ekspo.
“Ons het met verskeie lodges in die omliggende gebiede saamgespan om eksklusiewe reispakkette aan ons kykers en lesers te bied," het Botha gesê. "Hierdie lodges bied asemrowende uitsigte oor die landskap en sal die perfekte plek wees om ’n blaaskans te neem en te ontspan na 'n lang dag by die geleentheid. Ons sal vanjaar weer ons kontantbewysprogram hê om toerisme te bevorder, waar mense wat ’n kontantbewys van N$1 000 wen, besprekings by toerisme-ondernemings, insluitend reisinstansies, tydens die ekspo sal kan maak. Ons is trots om met Standard Bank en PayPulse hande te vat om die N$1 000-kontantbewyse inruilbaar te maak.”
Die Toerisme Ekspo sal volgens Botha toenemend op Namibië se buurlande fokus, waar toeriste die geleentheid sal hê om Namibië as deel van die groter Suider-Afrikaanse prentjie te ervaar – in pas met die “Beyond Borders”-konsep.
Besoekers kan uitsien na verskeie kulinêre ervarings sowel as bekendstellings van verskeie geleenthede – waaronder die Dorp van die Jaar-kompetisie; die Le Rugby Tour, wat wenners na Frankryk sal laat vlieg; en die bekendstelling van die finale stemrondte vir Toeris van die Jaar, asook toerismeverwante seminare wat vandag en môre tussen 11:00 en 16:00 aangebied sal word.
'n Kaart van die ekspoterrein by die Buiteklub is beskikbaar op Namibia Media Holdings (NMH) se webwerwe, sosiale media en in die gedrukte uitgawes van Republikein, Namibian Sun en Allgemeine Zeitung. Die program is beskikbaar op bladsy 8 van vandag se Market Watch.