Klubs hou uitdunne in parespel
Die Windhoek Gholfklub het die afgelope naweek die eerste van sy kwalifiserende toernooie in die King Price Internasionale Parespelreeks vir 2026 aangebied.
Altesame 46 spanne het deelgeneem, wat ‘n goeie opkoms in vergelyking met die openingstoernooi van vorige jare is.
Die topvier spanne het deurgedring tot die streekfinaal wat vanjaar in Augustus gespeel word.
Die gholfklub spreek hartlike dank uit teenoor King Price wat die reeks moontlik maak. Die pryse is deur ABInBev geborg.
Die voorste uitslae (kwalifiseerders met * aangedui):
1* Pieter Conradie en Anton Smit, 46 punte
2* Bonifatius Paulino en Kasoma Paulino, 46.
3* Ruan Greyling en Justus Amutenya, 46.
4* Elkana Mbango en Alvine Samuel, 45.
5 Nolan Swarts en Likius Nande, 45.
6 Vincent Dreyer en Chris van Lill, 43.
7 Borris Erasmus en Mannetjies Burger, 43.
8 Natasja Louw en Wessel Louw, 43.
9 Trevor Colmer en Jaco Meuwesen, 42.
10 Dewald Coetzee en Tommy Nangombe, 41.
Pryse vir die houe naaste aan die pen is deur Hendrik du Toit (putjie 3), Charl Brits (putjie 9), Wessel Louw (putjie 13) en Justin Mwamba (putjie 17) ingepalm.
Die klub bied komende naweek die Bank Windhoek Independence beterbalkompetisie aan.
RÖSSMUND
Swakopmund se Rössmund Gholfklub het Saterdag ook sy eerste uitduntoernooi in die Internasionale Parespelreeks aangebied, wat landswyd deur King Price en Castle Lite geborg word.
In warm weer by die kus is verskeie interessante parekombinasies ingeskryf, met klein verskille tussen die voorste spanne.
Rössmund se eerste kwalifiseerders na die nasionale rondte is Henry Louw en John Redman (wenners op uittel met 44 punte), Lukas Steve en Lester Hess (44), Carel de Jager en Jean du Toit (43, uittel) asook George Murasiki en Steven Johns (43).
Die volgende kwalifiserende toernooi by Rössmund word op 11 April gespeel.


