Rehoboth takel grondkwessie

Groot gaping tussen behoefte en inkomste
Grond is in Rehoboth aan sowat 1 000 begunstigdes in die informele nedersettings Burghershoek en Volstruisvlakte toegeken.
Jemima Beukes
Die toekenning van grond in Rehoboth bly ’n kopseer weens die hoë koste van dienslewering. Die dorp is egter stadigaan besig om vooruitgang op dié gebied te maak.
Volgens die dorp se burgemeester, Amanda Groenewaldt, het die raad besluit om grond aan meer as 1 000 begunstigdes in die informele nedersettings Burghershoek en Volstruisvlakte te oorhandig. Groenewaldt het tydens ’n tweedaagse konferensie vir grondbestuur en ontwikkeling van behuising op die dorp gesê die stukke grond van sowat 400 vierkante meter kos N$10 000 en kan oor vier jaar met maandelikse paaiemente van sowat N$200 afbetaal word.
Groenewaldt het aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê die konferensie is gehou om die bekostigbaarheid en beskikbaarheid van grond te bespreek.
Konferensiegangers het tot die gevolgtrekking gekom dat behuisingsbehoeftes groot is, maar dat behoeftes en inkomstevlakke hemelsbreed verskil.
“Ons is nou besig om ’n WINPlan te ontwikkel om die erwe uit te gee en dan gaan ons vroeg in die jaar begin. Ons is nou in die finale fases, ons gaan die plan nou aan die raad deurgee. Hierdie inwoners gaan ook ’n titelakte ontvang.
“Ons is ook besig in Bahnhof waar ons grond aan ’n georganiseerde groep gegee het wat hulself Saamstaan noem. Met die geld wat die inwoners betaal en byna N$1 miljoen beloop, kan ons begin om die grond te diens. Laasgenoemde is baie duur, so die meeste van die geld sal van die raad afkom,” het sy gesê.
Groenewaldt sê die raad beplan ook om die erwe in die nedersettings te hersoneer tot 350 of 400 vierkante meter. ’n Resolusie is ook aanvaar om voort te gaan met die uitreik van erwe aan informele nedersetters, ten spyte van die feit dat hulle ’n hofsaak oor die grond teen die dorpsraad verloor het.
“Ons gaan hulle net herrangskik. Hulle moet ook ’n omgewingsklaringsertifikaat kry en dit is waarom dit so lank vat. Ons het gevind die meeste van Rehoboth se nedersettings het nie deur hierdie fases gegaan nie en ons wil dit regstel,” het sy gesê.
Rudolf Muhembo, die hoof van die tegniese departement, het gesê die dorpsraad het tot die besef gekom hulle kan nie ’n universele strategie gebruik wanneer hulle beplan om grond en behuising toe te ken nie, omdat inkomstevlakke verskil.
Hy het die hoop uitgespreek dat die toekenning van grond vir die met weinige inkomste sal verander.