Hartsorgeenheid ontvang skenking

Jamie-Lee Loss
Jamie-Lee Loss
Windhoek sentrale hospitaal - die enigste staatshospitaal in die land wat oor ’n harteenheid beskik – het Maandag ’n skenking van N$320 000 van Simonis Storm Securities ontvang vir die aankoop van verbruiksgoedere.
Volgens die uitvoerende direkteur van die ministerie van gesondheid beskik hierdie harteenheid die nodige boustene om te funksioneer, en daarom is Namibië van die min Afrikalande wat verskeie toetse en prosedures kan doen, wat deur 'n span spesialiste uitgevoer word.
Hy het bygevoeg dat wat in die eenheid vereis word, verbruiksgoedere is. Dit is items wat relatief vinnig opgebruik word en wat tydens prosedures en toetse benodig is.
Simonis Storm se skenking is nie net gegrond in die behoefte om sy korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid na te kom nie, maar ook op ’n vriendskap tussen Andrew Jansen, voorsitter van Lexus Securities – Simonis Storm se houermaatskappy – en die pediater dr Solly Amadhila.
Jansen het gesê hulle het besluit om die skenking te maak omdat hulle weet dit sal ’n groot verskil maak in die lewens van baie mense; nie net vir pasiënte nie, maar ook vir die passievolle spesialiste wat in die harteenheid werk.
“As sustermaatskappye moedig Simonis Storm en Lexus die beleggingsgemeenskap aan om die lewens van mense wat minder bevoorreg is, te verbeter,” het hy gesê.