NHP-lede moet self betaal, sê tandartse

Ingewikkelde eisprosedures, geen betalings
Die huidige uitdagings wat ondervind word, dui daarop dat die geografiese en sistemiese ontkoppeling moontlik bydra tot ondoeltreffendhede in eiseverwerking, kommunikasie en verskafferondersteuning.
Henriette Lamprecht

Die Namibiese tandartsvereniging (NDA) stop alle behandeling van lede van Namibia Health Plan (NHP), tensy pasiënte gewillig is om uit hul eie sak daarvoor te betaal en dit self terug te eis. Sodra alle agterstallige eise van diensverskaffers verwerk en betaal is, sal die besluit moontlik heroorweeg word, sê die vereniging se uitvoerende bestuur. Die NDA verteenwoordig sowat 80% van die Namibiese tandheelkundige bedryf.

Die stap word hoofsaaklik toegeskryf aan wat die NDA beskryf as die “vermeende onbevoegdheid en gebrek aan beplanning” aan die kant van Universal Healthcare in die oorname as administrateurs van Medscheme vanaf 1 Apri.

Die NDA sê in ‘n amptelike skrywe wat aan alle verwante partye gestuur is, dit sal ook pasiënte en werkgewersgroepe motiveer om uit NHP te bedank en na ander fondse te beweeg wat as betroubaar bewys is. 

Van die klagtes wat deur NDA-lede ontvang is, sluit onder meer in ingewikkelde eisprosedures met Universal wat “oningelig” is oor die Namibiese mark en hoe verskaffers funksioneer, watter platforms gebruik word, ens. “Omdat hulle nie kan oorskakel nie, is verskaffers

gedwing om terug te keer na papiereise, maar ontvangs van genoemde eise word skaars erken en

tydraamwerke wat deur Universal gekommunikeer is met betrekking tot verwerking, is tot op datum nie nagekom nie,” lui die verklaring.

Eise word glo ook verwerp met min tot geen verduideliking oor hoekom nie, terwyl daar “irrasionele versoeke vir motiverings vir basiese tandheelkundige prosedures” is. NDA-lede sukkel met voordeelkontrole en is onseker oor die akkuraatheid van voordele wat per telefoon bevestig word.

“Uiterste probleme” word ervaar om Universal-kantore te kontak sonder dat dit beantwoord word, lang wagtye of oproepe wat later afgesny word.

“Die verlengde tyd wat deur administratiewe personeel van praktyke spandeer word om baie min inligting te bekom, beteken hoër telefoonrekeninge vir verskaffers,” lui die verklaring.

Die NDA verwys ook na die verlies aan inkomste wat lei tot die gebruik van oortrokke geriewe, asook die vertragings in betalings aan krediteure wat lei tot rentekoste. Sou dit voortduur, waarsku die vereniging sal praktyke moontlik salarisse moet sny of personeel moet afdank omdat kontantvloei aansienlik geraak word. 

Volgens die NDA het Universal op ‘n webinar wat op 22 April aangebied is, genoem dat "dit weke sal neem om die agterstand op te klaar". Vir praktyke wat verbruiksgoedere moet koop en oorhoofse koste moet betaal, is dit onaanvaarbaar, maan die vereniging.

Dit verwys ook na aanvanklike outomatiese e-posse het terugvoer oor navrae binne 7-14 dae belowe, maar die outomatiese antwoord meld nou 10 - 15 dae wat ook glo nie nagekom word nie. 

“Wie sal verantwoordelikheid neem vir hierdie

vertraging in sorg? Wie sal wetlik aanspreeklik gehou word wanneer pasiënte se toestand versleg as gevolg van swak

administratiewe bestuur? Ja, tandprobleme kan noodlottig wees. Ja, daar is tandheelkundige noodgevalle.

Ja, pasiënte is in gevaar. Tog bly die vraag – op wie se gewete sal dit wees?,” vra die NDA.

‘n Arbeidsterapeut beaam in ‘n brief aan die uitvoerende raad van die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse (Namaf) bogenoemde sentimente oor voortgesette administratiewe en vergoedingsuitdagings wat met NHP ervaar word.

Sy verwys na toenemende frustrasie in die voorlegging, verwerking en uitbetaling van eise. Rekeninge vir dienste wat reeds gelewer is, bly onbetaald, terwyl eise wat ingedien is of onverwyld vertraag word of glad nie verwerk word nie. 

“Wat veral kommer wek, is die afwesigheid van duidelike kommunikasie, terugvoer of gestruktureerde prosesse om hierdie kwessies op die los,” lui haar brief. 

Dit veroorsaak onmiddellike operasionale spanning, met die verwante finansiële druk wat tans deur die verskaffer gedra word. 

“Dit is nie 'n volhoubare model nie, veral nie binne 'n klein privaat praktykomgewing waar konsekwente kontantvloei noodsaaklik is vir voortgesette dienslewering nie,” sê die arbeidsterapeut.

Sy opper ook vrae oor die aanstelling van 'n diensverskaffer buite Namibië om die funksies van 'n Namibiese mediese fonds te administreer. 

“Vanuit 'n praktiese en operasionele perspektief is dit onduidelik hoe so 'n reëling volhoubaar of gepas is binne die plaaslike gesondheidsorgomgewing. Die huidige uitdagings wat ondervind word, dui daarop dat die geografiese en sistemiese ontkoppeling moontlik bydra tot ondoeltreffendhede in eiseverwerking, kommunikasie en verskafferondersteuning.” lui haar brief.

Dit laat belangrike vrae volgens haar ontstaan ​​rakende toesig, verantwoordbaarheid en die kriteria waaronder sulke oorgrens diensreëlings binne die Namibiese regulatoriese raamwerk goedgekeur word.

Dr. Jürgen Hoffmann, uitvoerende hoof van die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) het erken “baie klagtes” is van verskeie diensverskaffers ontvang. 

Een van die klagtes is ‘n totale gebrek aan kommunikasie met “sommige mense wat tot vandag toe nie weet wat die proses is nie”.

Volgens Hoffmann was daar geen verduideliking oor presies wat gaan verander nie en is navrae aan NHP se hoofbeampte Dantago Garosas “eenvoudig geïgnoreer”.

“Ons bly in die duister met wat spesifiek waar en wanneer sal gebeur,” sê Hoffmann.

Die NPPF het in gesprek getree met Universal se hoof kommersiële beampte, Peter Dorfling oor hul frustrasie. Dorfling het onder meer verduidelik dat daar spesifieke en internasionale protokolle moet wees waarvolgens dienste gelewer moet, iets wat die NPPF volledig ondersteun. 

Hoffmann sê ‘n tweede gesprek het met Dorfling gevolg en dat kommunikasie daarna meer na diensverskaffers gevloei het. Webinaars is ook nou vir diensverskaffers op sekere dae beskikbaar waartydens Universal tydens ‘n paneelbespreking volledige inligting deel.  

Dorfling het by navrae deur die Republikein gesê hy het nie ‘n mandaat van NHP om oor die kwessies te reageer nie, maar dat dit as ‘n kwessie van dringendheid met die mediese fonds opgeneem sal word. Navrae is verwys na Universal se maatskappy vir openbare betrekkinge, Martina Nicholson. Nicholson het onderneem om so gou as moontlik op die navrae te reageer. 

In ‘n omsendbrief aan diensverskaffers het Universal die versekering gegee dat die oordrag na na die maatskappy stewig op koers bly. Spanne bly ook gefokus om voortgesette diens te verseker, diensverskaffers te ondersteun en dat die oordrag die sorg aan NHP-lede versterk eerder as ontwrig. Eise wat reeds ontvang is, word aktief verwerk en betalingslopies sal op ‘n weeklikse basis soos ouds voortgaan. 

Intussen het NHP se bestuurder vir korporatiewe kommunikasie Tunohole Mungoba by navraag gesê vrae wat deur Republikein aangestuur is, vereis bondige terugvoer en tyd wat hulle nie tans het nie. 

“Ons wil nie 'n haastige antwoord gee nie en vra dus vir tyd om u van omvattende terugvoer te voorsien om ons lede in te lig,” het Mungoba beloof. 

NHP het tans 40 468 hooflede en 83 038 begunstigdes en het die afgelope drie jaar met 6% gestyg. - [email protected]