Prostaat- en borskanker: Namibië ingesluit by navorsing

Jemimah Ndebele
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het ’n kankernavorsingsprojek van stapel gestuur wat daarop gemik is om te bepaal waarom mense van Afrika-herkoms ’n hoër risiko het om bors- en prostaatkanker te ontwikkel.
Die navorsing sal ook fokus op die redes waarom dié ongelykhede bestaan asook watter faktore dra by tot die verskille in gesondheidsuitkomste.
Die projek word uitgevoer deur ’n multi-dissiplinêre span van navorsers en professionele gesondheidslui oraloor die wêreld en ingesluit Namibië.
Die span sal saamwerk om inligting oor die voorkoms- en sterftekoers van bors- en prostaatkanker in mense van Afrika-herkoms te versamel en te ontleed.
“Die span sal die genetiese, omgewings- en maatskaplike faktore ondersoek wat tot hierdie ongelykhede bydra.
“Die navorsing sal ons help verstaan waarom mense van Afrika-herkoms ’n hoër risiko vir dié kankers het en wat kan gedoen word om ongelykhede uit te wis. Dit sal ook help om die gaping van ontbrekende data in lae- en middelinkomstelande te sluit,” sê die minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula.
Volgens die ministerie het die projek ten doel om die diagnose en behandeling van bors- en prostaatkanker te verbeter en om inligting deel van Namibië se kankerregister aan te vul.
Opleidings- en onderriggeleenthede word aan Namibiese gesondheidslui gebied om hul begrip van dié kankers te verbeter en hul vaardighede aan te vul in die navorsing, diagnose, behandeling en bestuur van die betrokke siektes.
Die bevindinge van die navorsing sal diensverskaffers help om maatreëls in te stel om in die eerste plek die voorkoms daarvan te verminder, terwyl dit ook ingrypings vir die bestuur sal deel.
Met verwysing na uitdagings het Shangula gesê die enigste sal wees indien die aantal pasiënte wat gewerf word, nie genoeg is om die noodsaaklike krag van die studie te waarborg nie.
“Dis egter onwaarskynlik omdat ons weet bors- en prostaatkanker kom wydverspreid voor en die studie is nie beperk tot een land nie. Dit gee die vertroue dat die uitslae van die studie deurgetrek kan word na die algemene bevolking in vele lande.”
Die studie sal voorafgegaan word deur bewusmaking om pasiënte aan te moedig om deel te neem.
[email protected]