Selfdood eis sy tol

790 lewens in 19 maande verloor
Jemima Beukes
Tussen Januarie 2021 en Julie vanjaar, het 790 mense in Namibië hul eie lewens geneem. Hiervan was ’n verstommende 649 mans, 102 volwasse vroue, en die oorblywende 39 was jonger as 18-jaar.
Hierdie syfers is deur die adjunkminister van gesondheid, Utjiua Muinjangue, aangekondig tydens die amptelike herdenking van Wêreldselfmoordvoorkoming- en Wêreld Geestesgesondheidsdag, wat verlede week in Outapi in die Omusatistreek gehou is.
Muinjangue het gesê dat selfdoodpogings tussen Maart 2021 en April 2022, in daardie spesifieke streek op 179 gestaan het. Al die selfmoordpogings was jong vroue. In 2020 is 138 selfmoordpogings daar aangemeld.
“Dit is kommerwekkende getalle. Ek wil almal wat vandag hier is aanmoedig om die hoop te wees in die kringe waarin ons beweeg, en onsself, familielede, vriende en kollegas aan te moedig om professionele hulp te soek. Ek glo dat wanneer ons as gemeenskap saam staan om hoop te skep, ons selfdood kan voorkom. Mense moenie skaam wees om te praat oor hoe hulle voel nie,” het sy gesê.
Volgens Muinjangue is dit die ministerie van gesondheid se prioriteit om die 2022-2027 Nasionale Strategiese Plan oor Selfdoodvoorkoming en -behandeling voor die einde van die huidige boekjaar te finaliseer en met die implementering daarvan te begin.
Sy het bygevoeg dat die implementering van die strategiese aksie gedefinieer word deur sleutel strategiese areas, naamlik voorkoming, behandeling, wetlike raamwerk, talentbestuur, asook monitering en evaluering.
“Selfmoordvoorkoming en die bevordering van geestesgesondheid onder jongmense is noodsaaklik gegewe die beperkte dienste wat vir hierdie ouderdomsgroep beskikbaar is. Boonop voorkom vroeë diagnose en intervensie geestesgesondheidstoestande wat tot volwassenheid kan strek, en kan dit jongmense se kanse om bevredigende lewens as volwassenes te lei aansienlik verbeter,” het Muinjangue gesê. – [email protected]