Finansiering vir Kupferberg, Gammams gesoek

Ogone Tlhage
Die Windhoek munisipaliteit (CoW) is besig om finansiering te soek vir die opgradering van die Kupferberg-stortingsterrein en die Gammams-watersuiweringsaanleg (WTP), het O’Brien Hekandjo, waarnemende uitvoerende hoof, gesê.
Dit volg na verdoemende onthullings deur stadsraadslid Jürgen Hecht wat gesê het die stortingsterrein moet binne twee jaar vervang word wanneer dit sy produktiewe leeftyd bereik, terwyl die WTP binne die volgende vier jaar opgegradeer moet word.
Hecht het gesê geen strategiese geldinsameling is gedoen om die Stad se verouderende infrastruktuur te vervang nie, wat hy meen finansiering ter waarde van ongeveer N$1,5 miljard sal verg.
Hekandjo het die Hecht se uitsprake van die hand gewys en gesê die raad reeds samesprekings begin het om finansiering vir die projekte te bekom.
“Die raad het met die Omgewingsbeleggingsfonds geskakel vir die befondsing van Kupferberg en die verantwoordelike departement doen tans ’n voorlegging oor ’n befondsingsvoorstel,” het hy gesê.
Kupferberg het twee afdelings, een vir gevaarlike afval met ’n oorblywende leeftyd van twee jaar, terwyl die algemene afvalafdeling ’n oorblywende lewensduur van 36 maande het, het hy bygevoeg.
Met betrekking tot die nuwe Gammams WTP, is besprekings met die KfW Ontwikkelingsbank aan die gang om finansiering te verkry. “Die raad - gelei deur die verantwoordelike departement - is in gevorderde onderhandelinge met die ministerie van finansies en KfW,” het Hekandjo gesê.
‘Geen finansiering nie’
Hecht het verlede week die status van die CoW se finansies blootgelê en gesê daar is geen voorsiening gemaak om die stortingsterrein te vervang of die WTP op te gradeer nie.
“Geen strategiese finansiering is beskikbaar vir hierdie twee kapitaalprojekte wat ongeveer N$1,5 miljard beloop nie. Die Kupferberg-stortingsterrein sal oor twee jaar die einde van sy leeftyd bereik; koste vir ’n nuwe en behoorlike plaasvervanger word tans op N$230 miljoen geraam,” het hy gesê.
“Die Gammams WTP, wat direkte huishoudelike rioolwater behandel en filtreer, moet opgegradeer word. Dus moet ’n nuwe en hoër kapasiteit WTP binne die volgende vier jaar gebou word teen ’n geraamde koste van N$1,2 miljard,” het hy bygevoeg.
Hecht het ook sy kommer uitgespreek oor die waterverliese wat die Stad ervaar weens sy verouderde infrastruktuur.
Volgens Hecht heg die CoW inwoners nie ten volle vir water nie.
“Ons is uiters bekommerd oor die toekomstige watervoorsiening vir Stad Windhoek, aangesien dit ’n onverklaarbare waterverlies van ongeveer 25% tot 30% het weens ons bestaande waterpyp-infrastruktuur.
“As dit die geval is, dan hef die Stad inwoners net vir 75 kubieke meter vir elke 100 kubieke meter water wat by NamWater gekoop word,” het Hecht gesê.
Die CoW sal oor die volgende vyf jaar ongeveer N$100 miljoen moet belê om die situasie aan te spreek, het hy bygevoeg.
“Dit is weens veroudering en bros waterpype, sogenaamde retikulasieverliese asook personeel- en meetprobleme. Geen instandhouding is oor die afgelope paar jaar gedoen nie.”