Geen geld vir herstelwerk

Museums bly gesluit
Tanja Bause
Die Owela Display and Educational Centre en die Alte Feste in Windhoek is beide steeds vir die publiek gesluit.
Die Alte Feste is rondom 2014 vir herstelwerk gesluit en Owela is op 16 Maart 2020 weens die Covid-19-pandemie tot verdere kennisgewing gesluit.
Volgens Owela se kurator vir uitstallings, me. Olivia Nakale, kan die museum nog nie weer geopen word nie. Die Owela-sentrum is langs die Nasionale Teater geleë.
“Die gebou moet herstel en opgeknap word en daar is net nie geld daarvoor nie. Sodra ons fondse kry, kan die werk begin en die vertoon en opvoedkundige sentrum kan weer geopen word. Tot dan sal dit ongelukkig gesluit bly,” het sy gesê.
Dieselfde geld vir die Alte Feste, het die kurator vir sosiale wetenskappe, me. Miriam Mubusisi, gesê.
“Die Duitse ambassade het vir ons geld gegee sodat ons die gebou kon stabiliseer om te verseker dat dit nie inmekaar stort nie. Nou is daar nie geld om die ander herstelwerk en broodnodige opknappings te doen nie. Die museum ressorteer onder die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, wat beteken erfenis moet met klaskamers meeding. So, voordat kinders onder ’n boom klas kry, word eers klaskamers gebou en erfenis is ongelukkig laaste op die lys van die regering se prioriteite.”
Sy het ook gesê planne is wel alreeds gemaak vir wanneer die Alte Feste herstel is.
“Ons sal al die historiese items weer daar uitstal. Daar is ook planne om uitstallings van natuurlike erfenis daar te huisves. Al die items wat in die Alte Feste gehuisves was, word nou in die Bergmann Haus veilig bewaar.”
Mubusisi het gesê almal wat trots op hul geskiedenis is en dit wil bewaar, is welkom om tot die herstelwerk by te dra.
Die Nasionale Museum van Namibië wat oorkant die Onafhanklikheid Gedenkmuseum geleë is, is ’n administratiewe gebou met net ’n paar uitstallings. Die gebou huisves talle natuurwetenskaplike, argeologiese en antropologiese versamelings waarvan heelwat uit die 1900’s afkomstig is.
“Die antropologiese versameling is van kulturele kunseffekte van al die etniese groepe van Namibië. Die natuurwetenskaplike versamelings sluit in reptiele, slange, spinnekoppe, skerpioene en insekte. Die soogdiere bestaan uit nat monsters, soos in diere in formalien, en droë monsters, soos die vel en bene van verskillende diere. Ons het ook ’n versameling van visse.
“Toegang tot al die versamelings moet egter vooraf gereël en toegestaan word,” het Nakale gesê.
Oorkant die straat is die Onafhanklikheid Gedenkmuseum wat oop is vir die publiek. Op die oomblik is die televisiestelle waarop video’s gewys word wat die verskillende uitstallings aanvul en verduidelik egter nie in werking nie en talle van die beskrywings oor die uitstallings het weggeraak. Die gebou het ook herstelwerk nodig.