Groot Aub krap kop oor water

Sabotasie, onwettige private verkope word vermoed
Augetto Graig
“Ons weet van sabotasie en dat iemand die kleppe op die hooflyn toemaak sodat hulle self water kan opvang om dit dan aan die inwoners te verkoop.”
Só het Ivan Skrywer, raadslid van Stad Windhoek (CoW) verantwoordelik vir Groot Aub, gister op ’n navraag van Network Media Hub (NMH) gereageer.
Khomas-streekraadslid Piet Adams het ook die vermoede van sabotasie geopper. “Hoekom nou? Daar is mense wat baie onnodig is; hulle maak hul tenke vol en natmaak hul tuine. Is dit doelbewuste sabotasie? Ek het simpatie, veral met die oumense,” het hy gesê.
Adams het ook bevestig dat water privaat te verkoop glad nie op Groot Aub toegelaat word nie. “Mense vat kanse, maar die owerhede is nêrens te siene nie,” sê hy.
Adams sê hy het die kwessie by die Windhoek-stadsraad aangemeld. “Dis ons almal wat in hierdie penarie is,” sê hy, wat ook watertekorte by sy huis op Groot Aub ervaar.
Sommige inwoners sê daar word N$200 vir 1 000 liter water op straat gevra.
Die nedersetting het ondergrondse water, maar die inwoners is steeds sonder water. Laerskool Groot Aub, wat 1 500 leerders huisves, het al vir ongeveer ’n maand droë krane.
Inwoners van verskeie woonbuurte krap al drie maande lank kop oor die watertoevoerprobleem, met huisgesinne wat met niks of dun straaltjies water uit hul pype moet klaarkom.
Elizabeth Hoebes, ’n onderwyseres by die Bright Minds-kleuterskool, sê die 38 kinders in haar sorg is nou al vir die derde maand afhanklik van die kliniek langsaan vir drinkwater en om die skool skoon te maak.
Wat die situasie so eienaardig maak, is dat daar net in die straat af ’n huis is wat spog met groen tuine, vrugbare wingerde en groot, vol watertenks.
Die eienaar van dié huis, Sheldin (Trompie) Bock, sê sy krane is ook die afgelope drie weke leeg. Hy sê hy kry egter water vanaf die dorp se waterpypleiding en gaan haal ook water van private boorgate op omliggende plotte, wat hy aanry om sy tenks te vul – vir eie gebruik en vir sy tuin.
Bock ontken dat hy water aan sy bure verkoop, maar erken dat hy hulle vra om te help dek aan vervoerkoste vir die water wat hy met hulle deel.
“Groot Aub het [ondergrondse] water, maar dis nou somertyd en almal gee hul plante water,” sê hy.
“Toe dit winter was, het niemand die plante water gegee nie. Dalk raak die ondergrondse water[vlakke] laag. Een gebied het water, die ander gebied nie.
“Soos nou sit ons blok met die waterprobleem, maar die mense wil net sit en alles gratis hê; hulle verwag die volgende persoon moet vir hulle die water aanry,” sê Bock.
Patrick Beukes, ’n boorling van Groot Aub wat ook in dieselfde straat naby die kliniek woon, sê: “Ons kan nie sonder water bly nie. Ons kan nie ons toilette gebruik nie, want ons het nie water nie.
“Maar inteendeel kry jy die volgende persoon wat in dieselfde lyn as jy bly, wat water in tenks opgaar en water verkoop. “Selfs ons in hierdie lyn wat dit kan bekostig, moet water aankoop sodat hulle hul toilette kan gebruik en hul skottelgoed kan was. Ons het al hierdie goed gekla by City of Windhoek, by die raadslid, by die persoon wat verantwoordelik is vir die water,” sê hy.
“Wat te erg is, is te erg,” voer Beukes aan.
Adams sê egter dat die huidige probleme ook onderliggende tekortkominge beklemtoon.
Groot Aub se waterstelsel is al jare lank onvoldoende en is afhanklik van die waterreservoir wat in 2006 gebou is om sowat 6 000 inwoners van water te voorsien. Vandag wissel Groot Aub se bevolking tussen 8 000 en 9 000 mense.
“Vir daardie aantal inwoners kan die ou pype nie meer die druk hanteer nie; ons het oral lekkasies,” sê Adams.
Daar is ook diere op die nedersetting wat meeding om die beskikbare water, sê hy.
Aanbevelings, soos om water uit die Oanobdam te verkry, is voorgestel maar nooit geïmplementeer nie. ’n Bykomende twee of drie waterreservoirs word op strategiese plekke benodig, sê Adams.
Groot Aub het agt boorgate, maar Adams sê hy weet nie hoeveel gekoppel of operasioneel is nie.
Bykomende vrae wat aan die Windhoek-munisipaliteit gestuur is, was teen druktyd nog nie beantwoord nie. – [email protected]