Groot Aub se krane loop weer

Windhoek-amptenare, stadspolisie gryp in
N$110 miljoen word benodig om watervoorsieningsinfrastruktuur op Windhoek-standaard te bring.
Augetto Graig
Elizabeth Beukes (58) was Vrydagoggend verheug om weer haar wasgoed by haar huis in Groot Aub te kan was, waar sy saam met baie van haar bure maande se watertekorte verduur het.
Vermoedelik is onwettige waterverbindings gebruik om water vir verkoop aan inwoners op te gaar en sodoende ook die mark te beïnvloed deur die waterdruk te verminder, wat baie huishoudings geheel en al sonder watertoevoer gelaat het.
Vir ‘n duisend liter water moes inwoners glo tot N$200 op straat opdok. Donderdag het ‘n span vanaf Windhoek ingetree.
Groot Aub val onder die jurisdiksie van die hoofstad, en Stad Windhoek se hoofwoordvoerder, Lydia Amutenya, beklemtoon: “Tans word geen individu of entiteit toegelaat om water te verkoop nie.”
Sy verwys na die Wet op Plaaslike Regering, nommer 23 van 1992, wat die verskaffing van water sonder goedkeuring strafbaar maak met 'n boete van N$1 000. Onwettige aansluiting op die hoofwaterpyplyn behels ook 'n boete van N$1 000, tesame met 'n boete van N$1 000 vir die beskadiging van 'n waterpyplyn en vir dade wat kan lei tot die beskadiging van watervoorsiening.
Aksie geneem
“Tydens 'n onlangse gesamentlike besoek deur stadsamptenare en die stadspolisie is gevind dat sommige gemeenskapslede inwoners laat betaal het vir die vervoer en aflewering van water. Die onwettige waterpunt wat tydens hierdie besoek geïdentifiseer is, is ontkoppel,” het Amutenya gesê.
Inwoners van Groot Aub ontvang gratis water, maar die onbeplande bevolkingsaanwas sedert 2017, toe die nedersetting binne Windhoek se grense val, is die hoofrede vir onderbrekings in die watertoevoer. “Die huidige stelsel is oorspronklik ontwerp vir 'n kleiner bevolking, en die verhoogde vraag het aansienlike druk op die bestaande infrastruktuur geplaas,” sê Amutenya.
“Weens die topografie van die gebied kry laeliggende gebiede ononderbroke watertoevoer, terwyl hoogliggende gebiede onderbroke toevoer ervaar. Om dit te versag, beplan die stad om ‘n beurtwatervoorsieningstelsel te gebruik om te verseker dat alle gebiede op geskeduleerde tye water ontvang,” sê sy.
Verder word daar beplan om dalk water vanaf die Oanobdam na Groot Aub te bring, waarvoor NamWater genader is om ondersoek in te stel, sê sy.
Boorgate
Om die voorsieningskapasiteit te verdubbel, is vier bykomende produksieboorgate geboor, terwyl die beplanning en konstruksie van nuwe reservoirs, met die koppeling van waterpype aan die verspreidingsnetwerk, binne die volgende twee jaar onderneem sal word, sê sy. Sewe boorgate is tans in werkende toestand, met vyf wat gelyktydig gebruik word om die nedersetting se waterbehoeftes te handhaaf en een wat boerderydoeleindes ondersteun.
“Die stelsel is tans opgestel om ongeveer 10 000 inwoners van water te voorsien, wat gelykstaande is aan ongeveer 1 000 kubieke meter water per dag. Die vraag oorskry egter die aanbod as gevolg van bevolkingsgroei en verhoogde waterverbruik,” sê Amutenya.
Sy sê die meerderheid van die boorgate en die twee hooftoevoerlyne is redelik nuut en in goeie toestand, alhoewel baie van Groot Aub se waterinfrastruktuur nie aan Stad Windhoek se standaardspesifikasies voldoen nie. Laedruk-uitdagings word ondervind as gevolg van die hoë aanvraag, voeg sy by.
“Die stad beraam dat ongeveer N$110 miljoen benodig sal word om dele van Groot Aub se watervoorsieningsinfrastruktuur op te gradeer en te vervang om aan die vereiste standaarde te voldoen,” sê sy.
Inwoners word versoek om wateronderbrekings en vermoedelike onwettige verbindings onmiddellik aan te meld. Skakel die stadspolisie se tolvrye nommer by 061 302 302 of stuur ‘n SMS aan 4444. - [email protected]