Opknappings by Onafhanklikheidstadion begin

Limba Mupetami
Amptenare van die ministerie van sport het 'n beroep op openbare en private korporatiewe entiteite gedoen om geld te skenk vir die rehabilitasie van die Onafhanklikheidstadion in die hoofstad.
Die regering het tot dusver N$50 miljoen vir die opgradering gebruik, maar ’n verdere N$48 miljoen word benodig om die stadion met sy huidigen sitkapasiteit van 25 000 na 45 000 te te gradeer en ander werke te voltooi.
Die ministerie se uitvoerende direkteur, Audrin Mathe, het Vrydag tydens ’n gesprek met belanghebbendes gesê die stadion is nie in sy huidige toestand geskik om internasionale geleenthede aan te bied nie.
Hy het gesê die byna N$100 miljoen opknappings moet gedoen word in ooreenstemming met die vereistes van die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) en die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF), sodat dit onder meer internasionale wedstryde kan aanbied.
Opgraderings
Mathe het gesê die stadion beskik meerendeels nie oor individuele sitplekke nie, wat beteken dat die meerderheid besoekers op betonbanke gesit het. Hierdie word nie deur Fifa toegelaat nie.
“Ons probeer om aan Fifa- en CAF-vereistes te voldoen. Daarvolgens mag mense nie op betonsitplekke sit nie. Boonop is die BBP-area te klein en dit moet vergroot word. Die mediakamer moet ook opgegradeer word.”
Op die oomblik is die ingang na die stadion 2,2 meter hoog, terwyl CAF vereis dat dit 4,4 m hoog moet wees.
Mathe het bygevoeg dat die media- en BBP-ingange ook geskei moet word.
Addisionele ligte gaan aangebring moet word en die veld gaan ook aangepas moet word.
“Of ons die Afrikabeker-toernooi (Afcon) aanbied of nie, die stadion moet opgegradeer word. Ons doen dit nie vir Afcon nie,” het Mathe bygevoeg.
Tot dusver het Imms Mulunga, die besturende direkteur van die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië en voorsitter van die hoofbestuursforum, N$1 miljoen aan die opknappings beloof.