Reho Spa-swembad amper tot sy volle glorie herstel

Augetto Graig
Die ikoniese Reho Spa-swembad op Rehoboth is amper weer gereed om plesier aan jonk en oud te verskaf, met die Desember-skoolvakansie net om die draai.
Volgens die projekbestuurder Petrus Markus beoog munisipale werkers wat by die projek betrokke is om die herstelwerk aan die swembad en sommige van die braaigeriewe teen die tweede week van November te voltooi.
Markus sê die munisipaliteit is ver gevorderd met fase een van die projek om die Reho Spa weer vir die publiek oop te stel.
Werk het in Julie 2024 afgeskop en die eerste fase, insluitend die herstelwerk aan die swembad van 15 m by 30 m, is amper voltooi, tesame met die verf van die perseel en die herstelwerk aan die braaigeriewe. Skadunette word ook voorsien en die sitplekgeriewe is opgeknap.
Die konstruksie van ’n nuwe speelgrond en die restourasie van twee waterfonteine is moontlik gemaak deur ruim bydraes van Rehoboth-inwoners, voeg hy by.
Teen volgende week sal die aanvanklike werk aan fase twee begin. Dit sal opknappingswerk aan ten minste agt van die bungalows by die oord insluit. Fase drie, wat die restourasie van die groot bad waarin water vanaf die ondergrondse warmwaterbron ingepomp word, sal moet wag totdat meer geld ingesamel, of ’n belegger gevind kan word.
Tot op hede is ongeveer N$6,3 miljoen van die sentrale regering, tesame met die Rehoboth-munisipaliteit se eie geld van ongeveer N$3,8 miljoen, in die projek geploeg, volgens die dorp se uitvoerende hoof, Ronald Windswaai.
Self ingesamel
Hy het die dorp se inwoners geprys, wat sowat N$700 000 deur die plaaslike ontwikkelingskomitee ingesamel en bygedra het. Sommige gesinne het ook ingespring om die herstel van spesifieke braaigeriewe te borg. GOtv het ook bygedra tot die opknapping van die speelgrond, voeg hy by.
In die geval van die groot swembad is kundiges van Windhoek genooi om met die herstelwerk te help, terwyl die munisipaliteit se werkers seker maak daar is chloor in die swembad en roetine-instandhouding uitvoer.
Die swembad is verlede week leeggepomp om die herstelwerk te bespoedig.
“Daar is geringe probleme met die swembad, maar ons hoop om die swembad en braaigeriewe teen die einde van hierdie maand gereed te hê,” het Windswaai gesê.
Intussen is die oordrag van eienaarskap van Reho Spa van die ministerie van werke en vervoer na die Rehoboth-dorpsraad in ’n gevorderde stadium, sê hy.
Die tesourie se instruksies om eienaarskap van die perseel oor te dra, word uitgevoer, brei Windswaai uit.
Die bate word op ongeveer N$15 miljoen gewaardeer. Ou skuld wat verband hou met die oord word ook afgeskryf, sê hy.
Windswaai het ook bevestig dat die oord se gebruik vir sielkundige sorg nie meer ter sprake is nie.
Dit was blykbaar net ’n misverstand, volgens hom.
Windswaai voeg by dat die dorpsraad reeds genader is deur belangstellendes wat die restaurant wil bedryf wanneer Reho Spa heropen.
Versigtig
Die munisipaliteit is egter versigtig om slegs met ervare rolspelers in die toerismebedryf saam te werk om te verhoed dat dieselfde lot die oord tref soos voorheen.
’n Ooreenkoms is reeds met die Namibia Wildlife Resorts (NWR) gesluit oor hoe die oord bestuur sal word, brei hy uit.
Windswaai sê die dorpsraad hoop dat die oord nie net geskik sal wees vir plaaslike doeleindes nie, maar ook om internasionale besoekers te lok.
“Ek is vol vertroue dat ons dit voor die skoolvakansie sal kan oopmaak om die gevoel van die gemeenskap te toets.
“Dit sal ’n bron van trots vir Rehoboth wees om die Reho Spa terug te kan bring,” sê hy. – [email protected]