Trans-Kalahari-grens nou voltyds oop

Augetto Graig
Die Trans-Kalahari-grens tussen Namibië en Botswana is nou 24 uur ʼn dag oop na geriewe by Buitepos en by die Mamuno-grenspos in die buurland amptelik Saterdag bekend gestel is. By die inhuldigingsgeleentheid het Albert Kawana, Namibië se minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit gesê: “Hierdie is die era van ekonomiese bevryding vir ons mense.”
Volgens hom is dit tyd om konflik agter laat en pogings te fokus op die groei van beide lande se ekonomieë, tot voordeel van inwoners. “Ons is nou in die tyd wanneer ons nie meer die Covid-19-pandemie kan blameer as ons nie ons teikens haal nie,” sê Kawana, wat byvoeg hy verwag ‘n hoë opbrengs na aanleiding van die vergemakliking van beweging tussen die buurlande.
Die nuutste verwikkeling volg op die inwerkingstelling van die ooreenkoms tussen Namibië en Botswana op 24 Februarie om burgers toe te laat om die grens met slegs identiteitskaarte oor te steek. Sedertdien het 525 Batswana al van hierdie geleentheid gebruik gemaak, sê hy, terwyl 214 Namibiërs tot onlangs – op 27 Maart – die grens só oorgesteek het.
Op 15 Maart het sy ministerie ook geriewe vir aanlyn aansoeke om werkspermitte en tydelike visums bekend gestel. Hierdeur kan Namibiërs ook volgens Kawana vir paspoorte aansoek doen. “In die era van die 21ste eeu het die vierde industriële revolusie wortel geskiet,” sê die minister, en voeg by dat meer aanlyn dienste gebied sal word. Afrika en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) moet byhou met die revolusie, sê Kawana. “Hierdie keer moet ons saam met die res van die wêreld beweeg.”
Botswana se minister van finansies, Peggy Onkutlwile Serame, en Anna Maria Mokgethi, die minister van arbeid en binnelandse sake, het dié buurland by die geleentheid verteenwoordig. Volgens Serame vorder die twee lande ook daarmee om die Trans-Kalahari-grenspos te omskep in ’n eenstop-gerief waar die betrokke dienste op een plek gelewer kan word. Sy sê hierdie verwikkelinge dra almal by tot die poging om die Trans-Kalahari-korridor die roete van keuse vir die SADC-streek te maak.
Goedere ter waarde van N$20,4 miljard word reeds jaarliks oor die grenspos vervoer deur sowat 8 800 vragmotors per maand. Met die nuwe bedryfsure sal meer vragmotors na verwagting die grens oorsteek en gevolglik meer goedere in- en uitvoer – wat meer inkomste vir albei lande en die betrokke Omaheke- en Charles Hil-streke sal beteken. Dié vergrote dienslewering kom nadat Namibië en Botswana albei die Afrika-vryehandelsooreenkoms bekragtig het, noem Serame. Volgens haar sal dit beweging van goedere vergemaklik en effektiewe gebruik van die hawe op Walvisbaai - waar Namibië ook vir Botswana ’n droë hawe-fasiliteit beskikbaar maak - bevorder.
“Tyd is geld,” voer Kawana aan, en voeg by die dae toe vragmotorbestuurders by die grens sou oorslaap en wag vir daglig om hul vragte deur doeane te kry is dus by die Trans-Kalahari-grens iets van die verlede. “Vragmotors moet spoedig klaring kry sodra hulle hier aankom, ongeag die tyd van hul aankoms. Dié wat sekuriteit hanteer, moet verseker goedere word nie in die aande, terwyl vragmotors vir klaring wag, gesteel nie. Dus verwag ek dat dinge hier glad sal verloop,” sê hy.
Hy sê ekonomiese bande tussen Namibië en Botswana sal nog nuwe geleenthede bied, wat ook meer dienste sal verg, en waarin veral die privaat sektor in verband met die nuutste logistieke tegnologieë, moet belê.
[email protected]