Verblyfsekerheid in hoofstad verbeter

Ogone Tlhage
Stad Windhoek het meer as 21 000 sertifikate van erkenning van besetting aan huishoudings in die informele nedersettings uitgereik.
Die stap is gedoen om die behuisingsbehoeftes van die hoofstad se inwoners aan te spreek en verblyfsekerheid te versterk.
“Om die dringende behuisingsbehoeftes te verlig en verblyfsekerheid te verbeter, het die Raad meer as 21 000 sertifikate van erkenning van besetting uitgereik aan huishoudings wat in informele nedersettings woon, en voorsiening gemaak vir die beheerde toegang, vooraftoewysing en volle implementering van die wet op buigsame grondbesit,” het die Stad gesê.
Hierdie stappe is bedoel om mense wat in die informele nedersettings woon in Windhoek se formele beplanningsprosesse in te sluit.
“Een van die sleutelpunte van die beleid is dat mense wat in die informele nedersettings woon wat geen vorm van beplanning geniet nie, nou erken word by wyse van ’n ‘besettingerkenningsbrief’,” het die munisipaliteit gesê.
In Februarie 2021 het die Raad besluit dat die erkenning van besetting in die vorm van ’n sertifikaat en gepaardgaande huurooreenkoms uitgereik moet word.
“Binne die bestek van twee jaar het die Munisipale Raad 29 136 sertifikate van erkenning van besetting uitgereik, waarvan 21 133 (73%) aan huishoudings in die informele nedersettings uitgereik is. Nog 8 000 sertifikate is in Augustus 2022 uitgereik en die proses sal voortgaan,” het die Stad gesê.
Op 30 Junie 2022 is 11 274 sertifikate in die Samora Machel-kiesafdeling uitgereik; 3 939 sertifikate in die Moses Garoeb-kiesafdeling; 3 527 in die Tobias Hainyeko-kiesafdeling; 1 137 in die Khomasdal-kiesafdeling; en 1 256 in die Windhoek Landelike kiesafdeling.