Karakter gevorm, waardes geleer
Sedert Februarie 1932 word karakter gebou en avonture beleef, met Die Voortrekkers in Namibië wat reeds die afgelope 95 jaar ’n verskil in die lewens van kinders en jongmense maak.
Dit is nie bloot net ’n aktiwiteitsklub nie, sê Elmine McCarthy van die Namibiese Voortrekkers.
“Dit is ’n kultuurbeweging wat die jeug toerus om positiewe burgers en konsekwente Christene te wees. Ons fokus op diensbaarheid, leierskap en karaktervorming deur praktiese ervarings in die natuur en in spanverband – van tente opslaan tot kampvuurgesprekke, vriendskappe smee, visvang en ’n klomp avontuur en nuwe lewensvaardighede,” vertel Elmine.
Van graad een tot graad 12, en selfs volwassenes, kan deel word van Die Voortrekkers, wat kinders en jongmense byeen bring met die doel om hulle lewens op vaste beginsels te bou, sodat hulle met koers en selfvertroue die toekoms kan ingaan, sê Elmine.
“In die natuur word karakter gevorm en waardes aangeleer. En ons vier hierdie jaar die 95ste bestaansjaar!”
Elmine verduidelik dat dié benadering vandag besondere betekenis kry binne Die Voortrekkers se jaartema: Voortrekkers as ligdraers in die wêreld. In ’n era van slimfone, sosiale media en konstante aanlyn-afleiding kies Die Voortrekkers steeds ’n koers waar die Bybel rigting gee, sê sy. Tydens kampe, en rondom braaivleis- en potbroodvure, leer kinders om tente op te slaan, berge uit te klim en aktief in hul gemeenskappe betrokke te raak.
“Ook hier in Namibië word die lig deur ons lede uitgedra deur hul voorbeeld, diens en betrokkenheid. Voortrekkers word aangemoedig om, weg van skerms, verhoudings en leierskap te ontwikkel. Hulle leer om lewensvraagstukke op ’n sinvolle manier te bespreek en verantwoordelik te leef in ’n wêreld vol diversiteit en uitdagings.”
Diens word ’n leefstyl; kreatiwiteit ’n hulpmiddel om struikelblokke te oorkom; en geloof en hoop die dryfveer vir môre.
Die verhaal van Die Voortrekkers is een van die Afrikaner se mooiste kultuurverhale, sê Elmine – ’n verhaal van deursettingsvermoë, toewyding en opoffering, waar lewenslange vriendskappe gesmee word en volwassenes ’n blywende invloed in jongmense se lewens het.
“Die Voortrekkers is ook ’n gesellige familiehuis waarby die hele gesin betrokke kan raak, en waar almal welkom is wat hulle vereenselwig met Die Voortrekkers se verbintenis aan die Drie-enige God, asook die kultuur en geskiedenis van die Afrikaner. Ons ideaal is om kinders hieraan bloot te stel terwyl hulle die grootheid van die Skepper en die skepping kan ervaar. Die balans tussen kultuur, avontuur en natuur vorm die kern van ons kan-filosofie.”
Hulle bou nie net aan vandag nie, verduidelik sy, maar ook aan die toekoms van ons land. In ’n wêreld vol druk en kompetisie bied Die Voortrekkers eenvoud, kameraadskap en avontuur. Sukses word nie aan prestasie gemeet nie, maar aan die vreugde van deelname, beklemtoon Elmine.
“As ’n jeuglid aan die einde van die jaar kan sê: ‘Voortrekkers was vir my super lekker,’ dan weet ons die lig brand helder!”
Projek Ligpunt is vanjaar ’n wêreldwye Voortrekker-inisiatief wat daarop gemik is om ’n kultuur van empatie, begrip en inklusiwiteit te vestig. Die fokus is op gestremdhede – sigbaar én onsigbaar – en hoe Voortrekkers ’n ligpunt in hul gemeenskappe kan wees. Vir meer inligting hieroor, en om deel van Die Voortrekkers te word, besoek die webtuiste www.voortrekkers.co.za, asook die Facebook-blad Namibie Voortrekkers.
— [email protected]


