Hof raps ministerie oor beskermde voëls

Ellanie Smit
Die hooggeregshof het die ministerie van die omgewing beveel dat hy nie beskermde voëlspesies onder die sorg van die Rare and Endangered Species Trust (REST) mag verwyder terwyl ’n hofsaak oor die aangeleentheid hangende is nie.
Dít nadat die N/a’ankusê-stigting Dinsdag die hof op ’n dringende basis genader het om ’n bevel te bekom om die ministerie te verhoed om verskeie bedreigde voëls en ’n eier te verwyder en te hervestig.
REST het onlangs sy deure gesluit en die voëls in N/a’ankusê se sorg gelaat.
Die saak is tot 11 Augustus vir ’n statusverhoor by die SAOG-hof uitgestel nadat ’n amptenaar van die staatsprokureur se kantoor - namens die ministerie - die aansoek teengestaan het en uitstel versoek het om die aansoek te oorweeg en antwoordstukke in te dien.
Die ministerie het tot Maandag 25 Julie om kennis te gee van voorneme om die saak teen te staan.
Volgens N/a’ankusê bestaan die voëls wat die onderwerp van die dringende aansoek is, uit ’n broeiende paar Kaapse valaasvoëls, twee bosarende, ’n bateleur-arend, een Afrika valk-arend, een reuse arendsuil en een gevlekte arendsuil.
Die Kaapse valaasvoël is die mees bedreigde spesie in Namibië en dié wat tans onder N/a’ankusê se sorg is, is die enigste broeipaar in aanhouding in die land, het die stigting gesê.
Broeiseisoen
“Die paar broei nou en die wyfie het haar tweede en laaste eier vir hierdie broeiseisoen gelê. Die oorlewing van die eier, en uiteindelik die kuiken, is noodsaaklik vir die wêreldbewaring van hierdie spesie. Die eier is uiters broos en moet dus gehanteer en vervoer word deur persone met genoegsame kennis en ondervinding om die bewaring daarvan te verseker,” het die organisasie gesê.
N/a’ankusê voer aan nóg hulle nóg REST glo die ministerie het die nodige vaardigheid en kundigheid om die voëls suksesvol te vervoer en te hervestig.
In ’n verklaring het REST gesê hulle het besluit om bedrywighede in Namibië te staak weens die “voortdurende administratiewe rompslomp en teistering deur die ministerie, deurdat die ministerie weier om die nodige permitte uit te reik om bewaringspogings voort te sit”.
Volgens REST het hulle op 12 April vir ’n permit aansoek gedoen om die voëls van REST na die N/a’ankusê Wildlife Sanctuary te vervoer, maar die ministerie het nie op die aansoek gereageer of ’n finale besluit verskaf nie.
REST is toe op 14 Julie ingelig dat die ministerie Dinsdag (19 Julie) die voëls sou gaan haal en verwyder.
“Die lot van hierdie voëls is in geheimhouding gehul. Die ministerie het versuim om te reageer op N/a’ankusê en REST se redelike versoeke vir inligting oor hoe die voëls vervoer sou word, waar en onder watter omstandighede hulle hervestig sou word, en of hulle enigsins hervestig gaan word en nie bloot deur die ministerie vrekgemaak sou word nie.
“Dit is teenstrydig met deursigtige optrede wat van ’n redelike administratiewe liggaam vereis word.”
In ’n brief aan die ministerie het REST se stigter Maria Diekmann gesê “dit is nie binne die bevoegdheid [van die ministerie] om aan my voor te skryf hoe ek my regte as die eienaar van my voëls moet uitoefen nie”.