Ministers spreek kommer uit oor voorgenome staking

Jemima Beukes
Die minister van arbeid, Utoni Nujoma, en sy onderwys-eweknie Anna Nghipondoka het kommer uitgespreek oor ’n nasionale stilstand wat voortspruit uit ’n voorgenome staking deur staatsamptenare, met laasgenoemde wat onderwysers gemaan het om “aan die kinders te dink”.
Nghipondoka het onderwysers daaraan herinner dat leerders reeds deur ’n moeilike tyd gegaan het tydens die Covid-19-pandemie, wat ’n toename in tienerswangerskappe gesien het en leerders se toegang tot daaglikse etes deur ’n skoolvoedingskema ontwrig het.
Volgens haar bevoordeel hierdie program meer as 400 000 leerders regoor die land en baie van die kinders wat toegang tot skoolvoeding kry, maak daarop staat as hul enigste ete van die dag.
Die minister het gister tydens ’n media inligtingsessie gesê indien ’n staking gaan plaasvind, sal die impak van skoolsluitings traumaties wees vir leerders wat pas van ’n lang vakansie teruggekeer het.
Sy het ook gewys op die potensiële finansiële verliese wat die regering sal ly as skoolkoshuise sluit, met kos wat sal bederf. Sy het ook die finansiële verliese uitgelig wat kan voorkom as nasionale eksamens geraak word.
Volgens Nghipondoka is die nasionale eksamenroosters reeds by verskeie skole en in die geval van ’n staking sal eksamens geraak word, wat ’n vertraging van uitslae tot gevolg sal hê en leerders se registrasie by tersiêre onderwysinstellings of ander skole sal beïnvloed. “Dit sal ook groot finansiële implikasies hê.”
Katastrofies
“2022 is die eerste jaar van relatiewe normaliteit wat ons leerders ervaar het en hul vermoë om sosiaal en fisies aan skoolaktiwiteite deel te neem op ’n gereelde basis. Die skielike sluiting van skole kan traumaties wees vir ons leerders wat die skool mis en smag na ’n terugkeer na hul normale roetine.
“Ons leerders kan nie meer onderrig- en leertyd verloor nie. Onderrigverlies binne alle fases, en veral vir grade wat nasionale eksamens neem, sal katastrofies wees en kan lank neem om te herstel,” het sy gepleit.
Nog ’n bekommernis is dat koshuisverblyf vir leerders ontwrig sal word in die geval van ’n staking aangesien sommige onderwysers ook toesig hou oor leerders wat in koshuise woon.
“Die ministerie het ooreenkomste met koshuisspyseniers aangegaan en die kos is bederfbaar, dus sal daar ’n groot verlies aan finansiële hulpbronne wees wat van die regering geëis sal word. Ouers kan eis dat hul kinders in die koshuis moet wees, aangesien hulle hul koshuisgelde betaal het,” het sy gesê.
Gevolge
Nghipondoka se uitlatings kom ná Nujoma gister aangekondig het dat hulle nie kan voldoen aan die eis wat deur staatsamptenare gestel word nie, en daarop gewys het dat ’n potensiële staking gevolge sal hê.
“Ons erken die reg van werknemers ingevolge die wet om hul reg uit te oefen om te staak, maar onder hierdie omstandighede is die werkgewer onder geen verpligting om enige van die werknemers in die nywerheidsaksie te vergoed nie. Die regering was deur die loop van die onderhandelinge baie oop, tegemoetkomend en deursigtig met die vakbonde in terme van sy finansiële posisie en die probleme wat die land in die gesig staar,” het hy gesê.
Hy het verder uitgelig dat die regering se posisie beïnvloed word deur die ekonomiese en finansiële situasie van die land en staatsfinansies - wat tot op die uiterste beproef is om uitgawes te dek, insluitend die bestaande loonrekening. – [email protected]