Bekostigbare en begeerlike klein sportsnuts

Honda se Elevate
Dirk Gallowitz
Ek het nog altyd ’n sagte plek vir Honda motors gehad. Een van my groot gunstelinge is die S2000, maar die Accord stasiewa van ’n paar jaar gelede met die 2,2 liter dieselenjin bly ’n item op my emmerskoplys. Honda se nuutste Civic RS is ook ’n groot gunsteling.
Ons was verlede maand by die bekendstelling van die heel nuwe Elevate, ’n klein sportsnuts in die Honda-stal, en ek was aangenaam verras met die oulike ontwerp, uitstekende bougehalte maar ook beïndruk met die bekostigbare prys vir wat aan kopers gebied word.
Die Elevate is die jongste toevoeging tot Honda se reeks van familie sportsnutse en gaan in ’n oondwarm segment meeding met onder andere die gewilde Suzuki Grand Vitara en Toyota Urban Cruiser, om maar net twee te noem.
Die nuwe Elevate is in Junie verlede jaar aan die wêreld bekendgestel as die ontwerp en produk van Honda R&D Asia Pacific en word deur Honda Cars India Limited gebou. Terloops, die Grand Vitara en Urban Cruiser kom ook uit Indië en al drie hierdie buksies het dieselfde teikenmark in die oog.
Bougehalte is goed met standaard toerusting en gerief gemik op die middelklas, sonder om af te skeep. Die gevolg is uitstekende waarde teen ’n bekostigbare prys.
Dinamiese voorkoms
Die Elevate vertoon Honda se ontwerpfilosofie waar ’n dinamiese voorkoms met ’n ruim kajuit en gerieflike ritgemak, vermeng word in ’n aantreklike pakket vir ’n spesifieke teikenmark wat ’n bekostigbare voertuig soek wat aan ’n familie die praktiese gemak en funksionaliteit van ’n kompakte sportsnuts bied wat ook ekonomies brandstofverbruik en ’n bekostigbare prys kombineer.
Binne die groter konsep van ’n “Urban Lifestyler” met robuuste bakstilering, bied die Elevate aantreklike opsies vir verskillende kopers.
Teen 4312 mm lank, 1790 mm breed en 1650 mm hoog, bring die Elevate ’n ruim kajuit vir vyf insittendes en klasleidende laairuimte van 458 liter.
Met 17” tweekleur sierwiele vir die topmodel Elegance en 16” staalwiele vir die Comfort, loop die Elevate se maag nie te laag op die grond nie en kan ’n gemiddelde tweespoor grondpad gemaklik aangedurf word.
Die regaf neus en donker sierrooster vang die oog, terwyl die LED voor- en agterligte met dagryliggies bo die hoofligte vir ’n moderne vooraansig sorg.
Ruim kajuit
Die ruim kajuit binne is goed uitgelê en het ’n tasbare gevoel van gemak danksy die gebruik van sagte materiale en goeie afwerking. Die Elegance se bekleedsel is van eko-vriendelike leer en vertoon modern en gee ’n gevoel van gehalte.
Die topmodel in Elegance afwerkingis besonder goed toegerus vir hierdie segment.
Sleutellose toegang met ’n selfsluit funksie wanneer die bestuurder met die sleutel wegloop, elektriese vensters, ’n nuwe intuïtiewe 7” kleur raakskerm vir die klank- en kommunikasiestelsels asook ritinligting en ’n koordlose laaiblad vir slimfone.
Bluetooth koppeling met skakelaars op die stuurwiel, Android Auto™ en Apple CarPlay® is ook standaard beskikbaar. Verder is daar outomatiese lugversorging, parkeergonsers agter en ’n multi-hoek tru-kamera wat die beelde outomaties op die raakskerm projekteer wanneer tru-rat gebruik word.
Modelle
Die nuwe Honda Elevate is tans beskikbaar in twee modelle met die Comfort as intreemodel en Elegance die luukser topmodel.
Beide is toegerus met Honda se 1.5-litre DOHC i-VTEC petrol 4-silinder enjin wat maksimum 89 kW teen 6600 rpm en 145Nm teen 4300 rpm se wringkrag lewer. Krag word na die voorwiele gestuur deur ’n 6-spoed handratkas by die Comfort model, terwyl die Elegance gebruik maak van ’n CVT outomatiese ratkas.
Tydens die mediabekendstelling in die pragtige Kaap het ons slegs met die luukser Elegance gery. Die rit was verbasend aangenaam en die veerstelsel het selfs die onegalige gedeeltes van die paaie gerieflik hanteer.
Die stuur het heerlik lig gevoel, ideaal vir hierdie segment terwyl die Elevate ook in die besige stadsverkeer beïndruk het.
Wind-, pad- en enjingeraas was minimaal en die Elevate het heerlik op die snelweg gedraf.
Ja wel, die 1500cc normaal geäspireerde enjin het nie die oemph wat hedendaagse turbo-enjins het nie, so jy moet maar goed beplan en die lepel behoorlik trap wanneer jy teen snelwegspoed wil verbysteek. Dit enjintjie mag dalk kreun met die hele familie en bagasie gelaai teen ’n bergpas uit, maar dan weer, ons gemiddelde brandstofgebruik was minder as 6l/100 km en dit is ’n bonus.
Met die Elevate bied Honda die gehalte, integriteit en hopelik ook die betroubaarheid wat Honda motors van weleer legendaries gemaak het.
Die Honda Elevate is ’n ruim, moderne, goed toegeruste en uitstekend geboude motor vir ’n middelklas familie teen ‘n bekostigbare prys.
Hy gaan fluks verkoop.