Beste van twee Wêrelde: Ford se Wildtrak X Dubbelkajuit

Dirk Gallowitz
Ford se Suid-Afrikaanse geboude Ranger-reeks bly groei met ’n nuwe model wat gereeld by die stal gevoeg word. Ons kon onlangs die Wildtrak X, wat in 2024 bekendgestel is, vir ’n week toets en was daarna oortuig dat die model ons nuwe gunsteling onder die dubbelkajuit Ranger-bakkies is wat tans plaaslik beskikbaar is.
Voorkoms en ontwerp
Die Wildtrak X is steeds onmiskenbaar ’n Ranger, maar wat uitsonderlik is, is dat die Wildtrak X, bo en behalwe die oranje kleurige X-kentekens op die agterklap en voor op die voordeure, ook ’n treffende swart sierrooster en “Cyber” oranje insetsels by die ligte en op die voorbuffer het. Daar is ook die opvallende tweekleur 17” allooivellings, beklee met General Grabber AT3 265/70-bande. Verder kry die Wildtrak X swartkleurige ovaal Ford-kentekens voor en agter, ’n staal-skermplaat onder die voorbuffer, asook swart gekleurde aluminiumkanttrappe en swart afwerking rondom die wielopeninge.
Die Wildtrak X het ook ’n effens hoër grondvryhoogte (26 mm) danksy spesiale Bilstein Position-Sensitive skokbrekers, asook ’n wyer spoor (30 mm), wat die Wildtrak X meer bekwaam in die veld op ruwe terrein maak.
Ons toetsbakkie was toegerus met die opsionele Flexible Rack-stelsel, waar die agterste rolstaaf met opwipdakkappe verskuifbaar is en in vyf posisies kan sluit om saam met die dakrak ’n verlengde rakspasie te vorm vir lang pale of vrag tot ’n maksimum van 80 kg. Die stelsel werk verbasend maklik.
Kajuit en toerusting
Binnekant is die Wildtrak X se kajuit soortgelyk aan ander luukse Ranger-dubbelkajuitmodelle en ewe gelyk in uitleg, luuksheid, geriefsfunksies, elektronika en veiligheidstelsels. Die voorpaneel word gedomineer deur die portret-tipe 12” infotainment-kleurskerm. Danksy Ford se SYNC4-stelsel is Apple CarPlay en Android Auto draadloos beskikbaar. Die 10-luidspreker B&O-klankstelsel bied uitstekende klank, terwyl kommunikasie en die 360° kamerastelsel se beelde en alle rit- en voertuiginfo intuïtief op die skerm beskikbaar is.
Die Wildtrak X verskil ook van sy stalmaats met “Wildtrak X”-insignia en -logo’s op die deurpanele, smukkassie, instrumentpaneeldeksel en leerbeklede sitplekke (met Miko-suede-invoegsels). Die “Cyber Orange”-kleurtema word smaakvol voortgesit in die kajuit met kleurgepaste stiksels op die voorpaneel, sitplekkomboorsels, deurpanele, rathefboom en stuurwiel.
Daar is verskeie USB- en ander koppel- en laaipunte vir klank- en kommunikasietoestelle, asook ’n draadlose laaiblad, terwyl agterste passasiers toegang het tot ’n ingeboude 400 W/240 V-omskakelaar (inverter). Algeheel is die kajuit van die nuwe geslag luukse Rangers klasleidend.
Enjin en kraglewering
Die Wildtrak X word aangedryf deur Ford SA se beproefde en plaaslik vervaardigde 2,0-liter viersilinder bi-turbodiesel-enjin, wat 154 kW en 500 Nm se piekkragte lewer tussen 1 750 en 2 000 rpm. Die krag word na al vier wiele gestuur deur Ford se 10-gang outomatiese ratkas, wat oor ’n laestrek 4x4-stelsel beskik en vier ritmodusse bied: 2H, 4A, 4H en 4L.
Met 4A kies die stelsel byvoorbeeld om krag en traksie tussen die voor- en agteras te wissel om maksimum traksie te behou, afhangend van terrein en ryomstandighede. Hierdie stelsel is ook in ander Ranger-modelle beskikbaar. Amptelik word brandstofverbruik op 7,5 L/100 km gegee. Ons kon egter slegs 9,6 L/100 km gemiddeld aanteken na ongeveer 1 000 km se ry, sleep en veldry, wat steeds ’n goeie verbruik is volgens ons mening.
Die Wildtrak X, soos ander 4x4 Ranger-dubbelkajuitbakkies, kan 3 500 kg sleep en ’n vrag van 966 kg agter op die bak laai.
Paddinamika en hantering
Die Ranger Wildtrak X is uiters bekwaam in die veld. Die verbeterde veldryvermoë, bo byvoorbeeld die van die normale Wildtrak, maak ’n merkbare verskil, selfs al is daar ’n effense verlies aan ritgehalte en hanteringsverfynheid. Die wyer spoor, hoër grondvryhoogte en inklimhoek (groter met 2°), beter veldryveerstelsel en greep van die bande dra elk by tot ’n merkbare verbetering van die Wildtrak X se veldryvermoë.
Die Wildtrak X is ook toegerus met Ford se Trail Turn Assist, wat kleiner hoeke en draaisirkels in die veld moontlik maak vir beter hantering. Standaard is ook Ford se Trail Control-stelsel, wat op die Ranger Raptor beskikbaar is. Hierdie stelsel laat die bestuurder toe om ’n konstante spoed van onder 32 km/h in die veld te handhaaf en beheer outomaties die voertuig se remming en versnelling tydens veldry.
Op die teer is die kajuit stil, met net ’n effense toename in band- en padgeraas. Hantering, versnelling en stuurgevoel is soos by die ander luukse Ranger 4x4 dubbelkajuit 2,0 BiT outomatiese bakkies.
Opsommend
Die Ranger Wildtrak X is ons gunsteling 2,0 BiT Dubbelkajuit 4x4-outomaties aangesien dit die beste van twee wêrelde bied. Dit is nie heeltemal so luuks soos die standaard Wildtrak nie en skiet effens kort teenoor die standaard Wildtrak se meer verfynde paddinamika. Tog is dit ook nie so spartaans soos die Tremor nie, en nie heeltemal so bekwaam in die veld soos die Tremor nie. Die Wildtrak X slaag egter daarin om die gunsteling eienskappe van beide te kombineer. Dit bied kopers byna die Tremor se uitstekende veldryvermoë en voeg daarby amper die luuksheid en goeie rit- en paddinamika van die duurder standaard Wildtrak.
Na ons mening is die Wildtrak X die ideale Ranger-dubbelkajuit vir kopers wat steeds die weelde van ’n Wildtrak wil geniet, maar ook avontuurlustig genoeg is om ’n Ranger te ry wat uiters bekwaam in die veld is.