Citroën Basalt bring koepee-styl na kompakte SUV-segment

Laat koppe draai
Die Basalt betree die mark met opvallende koepee-ontwerp, mededingende pryse en omvattende toerusting, en beoog om die intreevlak-kruisvoertuigsegment te skud.
Dirk Gallowitz

Citroën Motors, deesdae in die Stellantis-stal, het laat in Maart 2026 hul pragtige Basalt-koepee-kompakte SUV in Suider-Afrika bekendgestel met twee modelle aanvanklik beskikbaar. Ons was daar.

Die Franse ontwerp, wat in Indië in Stellantis se Tiruvallur-aanleg gebou word, gaan nie net die koppe laat draai nie, maar met ’n intreeprys van net minder as N$360 000, behoort dit ook kopers te lok wat in die strawwe finansiële plaaslike klimaat na goeie waarde soek, sonder om styl en luuksheid in hul wiele prys te gee.

Die koepee-styl ontwerp van die Basalt trek aandag. Dit ding mee met die Tata Curvv, Suzuki Fronx en Toyota Starlet Cross.

Citroën het die twee afwerkingsvlakke, bekend as Plus en Max, verbasend genoeg vir die prysklas redelik omvattend toegerus.

 

Binne en buite

Die 2026 Citroën Basalt is 4 352 mm lank met ’n wielbasis wat 2 651 mm tussen die asse meet. Die bagasieruim, wat ook ’n volgrootte spaarwiel dra, kan steeds 470 liter hanteer. Grondvryhoogte word aangegee as ’n billike 180 mm.

Die kajuit kan vyf passasiers hanteer met genoeg kop-, been- en skouerspasie vir drie middelgrootte volwassenes.

Die goedkoper Plus-model kom met 16” allooiwiele en 205/60 R16-bande, LED-projektorhoofligte, LED-dagryligte, sleutellose toegang, lugversorging, spoedbeheer, ’n 10” infotainment-skerm, ’n 7” digitale instrumentepaneel, ses lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer asook parkeersensors en ’n banddrukmonitor.

Die topmodel Max, wat met ’n NS15 000 prysopslag kom, word ekstra toegerus met onder meer leerbekleedsel vir die stuurwiel, ’n lig in die bagasieruim, twee ekstra tweeters vir die vierluidspreker-klankstel, ’n elektrochromatiese truspieël, ’n haaivin-antenna op die dak asook ’n tru-kamerastelsel.

 

Afwerkings en enjin

Beide modelle se binneruimtes is afgewerk met ’n tweekleur swart-en-grys bekleedsel, terwyl kopers kan kies tussen Polar White, Steel Grey en Garnet Red, wat elk ook beskikbaar is met ’n opsionele swart dak, asook Cosmo Blue en Black Pearl bakkleure.

Beide weergawes van die Basalt word aangedryf deur dieselfde 1,2-liter turbo-aangejaagde driesilinder petrolenjin wat in verskeie modelle met verskillende kraguitsette in die Stellantis-stal diens doen, waaronder ook Citroën se C3 en Aircross-modelle.

In die Basalt lewer die enjin 81 kW en 205 Nm se piekkrag, waar dit krag na die voorwiele stuur met behulp van ’n sesgang outomatiese ratkas.

 

Ritervaring

Ons het die toetsrit in Gauteng se dun lug gedoen, met die enjin en ratkas wat uitstekend gekombineer het vir ’n aangename ritervaring. Op die roete het die Basalt nooit na ekstra krag gesoek nie, selfs nie toe ons op die snelweg verbygesteek het nie.

Amptelik word die Basalt se brandstofverbruik aangegee as 6,3 L/100 km, met ’n 45-liter brandstoftenk.

Op die pad, wat grondpaaie, agterpaaie en snelweë ingesluit het, het die Basalt ons beïndruk met gemaklike hantering, goeie stuurgevoel en terugvoer, uitstekende remme en goeie balans.

Die kajuit was ook relatief stil, maar daar was sekere plastiekafwerkings wat beter kon wees.

Algeheel, gegewe die prys, bied die Citroën Basalt ’n welkome alternatief in hierdie segment.