Die avonturier in die Ranger-stal
Ford Ranger Tremor
Ford se nuwe generasie Ranger-reeks luukse 4x4-dubbelkajuitbakkies bied verskeie opsies aan voornemende kopers. Met die Ranger Raptor as die opwindende en sportiewe topmodel, is daar ook die Wildtrak- en Ltd-modelle wat elk op hul gebied aanloklik is vir kopers.Tydens die SA Bakkie van die Jaar-kompetisie in 2024 het die Tremor in die 126 – 160 kW-klasse deelgeneem, waar dit behoorlik en omvattend getoets is tydens sleep-, dinamiese rit- en hanteringstoetse, asook 4x4-toetse. Die Tremor het veral tydens veldrytoetse beïndruk — geen verrassing nie, aangesien dit spesifiek gebou en toegerus is vir die avontuurliefhebber wat klippe wil klim en sandpaaie wil aandurf.
Wat maak die Tremor anders?
Die idee agter die Tremor is om ’n meer doelgerigte dubbelkajuit 4x4-bakkie aan te bied vir kopers wat die buitelug, avontuur en veldry wil geniet, sonder om te veel in te boet op die gemak en luuksheid wat benodig word vir stadsdiens en alledaagse gesinsgebruik.
Die Tremor bied ook Ford se omvattende veiligheids- en bestuurderhulpsisteme soos in ander luukse Ranger-modelle. Die kajuit is steeds gerieflik en goed uitgelê, met dieselfde moderne toerusting, insluitend ’n 360°-kamerastelsel wat help om die groot Tremor maklik in knap stedelike parkeerruimtes te navigeer. Die stuurwiel is met duursame viniel oorgetrek, en die ratknop is met leer beklee. Die binnekant het grotendeels harde plastiekpanele en ’n sterk vinielvloer — ideaal om modder, sand en selfs water maklik skoon te maak. Die sitplekke is meganies verstelbaar.
Die Tremor word aangedryf deur Ford se jongste 2.0-liter bi-turbo 4-silinder diesel-enjin wat 154 kW (@ 3 750 rpm) en 500 Nm (@ 1 750 – 2 500 rpm) lewer. Krag word na al vier wiele oorgedra via Ford se bekende 10-spoed outomatiese ratkas, ondersteun deur ’n permanente 4x4-stelsel en verskeie ritmodusse.
Waar die Tremor egter uitstaan, is in voorkoms en toerusting: 17”-swart allooiwiele, 265/70R17 General Grabber AT3 veldrybande, Bilstein-skokbrekers, agterste ewenaar-slot, beskermplate, en ’n “Trail Control”-funksie. Die grondvryhoogte is 24 mm hoër en die spoorwydte is met 30 mm verbreed. Esteties is daar LED-ligte, ’n pypraam rolstaaf, aluminium kanttrappe en ’n unieke veldry-sierrooster — alles wat selfs die Hilux-brigade laat omdraai.
Die bak is met harde rubber uitgevoer, en vragte kan met handige hegpunte veilig vasgemaak word. ’n Sleepstang is standaard en die maksimum sleepvermoë is 3 500 kg.
Opsomming
Ons het die Ranger Tremor deeglik geniet. Ons het grondpaaie gery, 3 ton gesleep en die Sandveld se dik sand sonder moeite aangedurf. Gemiddelde brandstofverbruik was 11,4 L/100 km — aanvaarbaar gegewe die uitdagende terrein en gebruik van laestrek en die ewenaar-slot.
Die Tremor is indrukwekkend, selfs teen die prys van net oor die N$1 miljoen. ’n Opsionele diensplan tot 8 jaar/165 000 km is beskikbaar.